AfriForum verklaar 1 Desember as wêreldwye dag teen plaasmoorde
AfriForum verklaar vanjaar 1 Desember as wêreldwye dag teen plaasmoorde. Hierdie dag sal voortaan jaarliks daaraan toegewy word om slagoffers van plaasmoorde en -aanvalle te herdenk, hul naasbestaandes te ondersteun en internasionale aandag op die voortgesette geweld teen landelike gemeenskappe in Suid-Afrika te vestig.
Daar word deurlopend mense op plase in Suid-Afrika aangeval. Mense word beseer, gesinne word getraumatiseer en sommige slagoffers keer nooit weer huis toe nie omdat hulle vermoor word. Hierdie geweld mag nie bloot nóg ’n statistiek word nie. Agter elke plaasmoord is daar ’n mens, ’n gesin en ’n gemeenskap wat met die verwoestende gevolge daarvan moet saamleef.
Die datum is doelbewus gekies ter nagedagtenis aan die tweejarige Wilmien Potgieter, wat op 1 Desember 2010 saam met haar ouers, Attie en Wilna, op hul plaas in die Vrystaat vermoor is.
“Wilmien was maar net twee jaar oud. Haar lewe is wreed beëindig nog voordat dit behoorlik begin het. Haar dood – en dié van talle ander slagoffers van plaasmoorde – mag nooit vergeet of bloot tot statistiek gereduseer word nie. Hierdie dag gaan daaroor om hul name en lewens te onthou en om die werklikheid van plaasgeweld onder die aandag van Suid-Afrikaners én die internasionale gemeenskap te bring,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid.
AfriForum doen ’n beroep op lede van die publiek om op 1 Desember ’n klein wit kruis op hul hemp of baadjie te dra, of ’n wit hemp aan te trek, as simbool van herinnering en solidariteit met slagoffers en hul naasbestaandes. AfriForum se takke landswyd sal stiptelik om 12:00 ’n oomblik van stilte vir hulle hou. Die publiek en ondersteuners in ander lande word ook aangemoedig om op daardie tydstip ’n oomblik van stilte te hou of hul eie plaaslike herdenkingsgeleenthede te reël.
“Ons wil hê dat mense regoor Suid-Afrika – en ook elders in die wêreld – op 1 Desember saam met ons die slagoffers moet herdenk. Dit gaan oor elke lewe wat tydens ’n plaasmoord verloor is, elke persoon wat ’n plaasaanval oorleef het en elke familie wat steeds met die trauma en verlies saamleef. Ons vra mense om die wit kruis te dra en om 12:00 ’n oomblik van stilte te hou. Dit is ’n eenvoudige gebaar, maar ’n gebaar wat ’n kragtige boodskap van herinnering en solidariteit oordra,” voeg Broodryk by.
AfriForum is ook besig om met internasionale rolspelers, veral in die Verenigde State van Amerika, kontak te maak om hulle by die inisiatief te betrek en bewusmaking oor plaasmoorde in Suid-Afrika wêreldwyd te help skep. Die organisasie wil verseker dat hierdie dag nie net plaaslike aandag geniet nie, maar ook internasionale bewusmaking van die geweld teen landelike gemeenskappe bevorder.



