|

AfriForum bied oplossing vir voortslepende diensleweringskrisis in Matjhabeng-munisipaliteit

’n Nuwe AfriForum-inisiatief vir inwoners van Welkom beloof om ’n oplossing en werkbare alternatief tot power munisipale dienste te bied vir inwoners van dié deel van die sukkelende Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit. Die AfriForum Dienste-platform is pas bekendgestel en bied aan inwoners toegang tot verskeie dienste wat die munisipaliteit nie meer kan bied nie, insluitend betroubare vullisverwydering, herwinning en watervoorsieningsdienste.

Welkom se eerste watertenk is geïnstalleer. Van links is Andries du Plessis (AfriForum-buurtspanlid), Charmaine Nel (eerste kliënt wat aangesluit het by Afriforum Dienste) en Tania Neethling (AfriForum-projekleier).

’n Omvangryke diensleweringskrisis het die afgelope nagenoeg 15 jaar gelede in dié munisipaliteit ontstaan. Sedertdien word inwoners toenemend gekonfronteer met swak basiese dienslewering.

Hoewel beperkte regeringsingryping reeds in 2016 begin het, het daadwerklike grondwetlike ingryping eers ná ’n Hooggeregshof-uitspraak in Oktober 2024 momentum gekry toe die Vrystaatse provinsiale regering, ingevolge artikel 139 van die Grondwet, opdrag gegee is om by dié munisipaliteit in te gryp. Parlementêre toesig is ook ingestel en vorm deel van die eerste volskaalse regeringsingryping wat spesifiek op die diensleweringskrisis in die Matjhabeng-munisipaliteit gemik is.

Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, waarsku egter dat hierdie maatstawwe nog nie werklike verligting vir inwoners ten opsigte van dienslewering gebring het nie. “Ondanks die munisipaliteit se gepubliseerde weeklikse vullisverwyderingsroosters, word inwoners steeds gereeld gekonfronteer met hope vullis wat vir weke lank nie verwyder word nie,” verduidelik sy. Die versuim om vullis tydig te verwyder, dra volgens Ikking by tot die onwettige storting van vullis en gepaardgaande gesondheidsrisiko’s.

Benewens die munisipaliteit se vullisprobleem, ondervind inwoners ook deurlopend probleme met watervoorsiening. Waterpype wat bars, waterlekkasies en riooloorlope is die daaglikse en sigbare gevolg van swak instandhouding en die munisipaliteit se verouderde water- en rioolinfrastruktuur. Finansiële en bestuursuitdagings beperk boonop die munisipaliteit se vermoë om dié infrastruktuur betyds te herstel en laat krane gereeld leegloop.

Volgens Ikking baat dit niks om bloot net die probleme uit te wys nie. AfriForum wil eerder daadwerklike oplossings aan die gemeenskap van Welkom en omliggende gebiede bring. “Dit is juis om dié rede dat AfriForum die AfriForum Dienste-inisiatief ontwikkel het waardeur die organisasie self dienste kan bied wat nie net doeltreffend en stiptelik gelewer word nie, maar ook professioneel uitgevoer word deur vriendelike en behulpsame personeel,” verduidelik Ikking.

“Inwoners is nie veronderstel om vir dienste te betaal wat hulle nie ontvang nie. Die tyd vir verskonings is verby – die tyd om daadwerklik in te gryp is nou,” voeg sy by.

AfriForum doen ’n beroep op inwoners van Welkom en omliggende gebiede om deel van die oplossing te word deur by AfriForum Dienste aan te sluit. Deur die diensplatform te ondersteun, stel inwoners AfriForum in staat om volhoubare, betroubare en professionele dienste te lewer waar dit die nodigste is.

Kontak Ikking (066 486 7612) vir meer inligting of besoek die platform se webwerf www.afriforumdienste.co.za.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf