Naledi-munisipaliteit moet fokus op instandhouding voordat waterwerke onklaar raak – AfriForum
Die AfriForum-tak in Vryburg stel voor in sy kommentaar op die Naledi Plaaslike Munisipaliteit se jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) dat dié munisipaliteit dringend opgraderings aanbring en instandhouding doen op beide Vryburg en Stella se infrastruktuur. AfriForum voer aan dat die opknapping van die water- en rioolwerke eerste prioriteit moet geniet, aangesien inwoners van Vryburg gereeld vir weke aaneen deur rioolwater moet ry.
Die verval van infrastruktuur by veral die water- en rioolwerke kan onder meer onderbrekings in watervoorsiening veroorsaak asook besoedelde drinkwater tot gevolg hê. Dit terwyl voortdurende verstoppings in stormwaterafvoerpype tot ernstige oorstromings en skade aan ander infrastruktuur kan lei.
Buiten dié probleme, bly die toestand van die paaie in beide dorpe steeds ’n groot bekommernis. Die hoeveelheid slaggate op sommige paaie maak dit byna onbegaanbaar vir padgebruikers; stoptekens word gesteel en nie vervang nie; en die padmerke by stopstrate is al so verweer dat motoriste dit nie kan sien nie. AfriForum het al verlede jaar uitgewys dat daar ruimte in die begroting gemaak moet word om padinfrastruktuur in stand te hou. Die munisipaliteit het egter tot op hede nog nie daarop ag geslaan nie. AfriForum se Vryburg-tak het gevolglik al self slaggate herstel, asook stopstrate en alle spoedhobbels in die dorp geverf.
AfriForum het al op verskeie kere voorgestel dat die munisipaliteit ’n memorandum van verstandhouding met die burgerregteorganisasie onderteken. Dié memorandum sal nie net samewerking tussen die munisipaliteit en AfriForum in die toekoms vergemaklik nie, maar ook AfriForum in staat stel om verskeie projekte in die dorp aan te pak en die infrastruktuur te verbeter wat dan op sy beurt die munisipaliteit se las ligter maak. Die munisipaliteit het egter nog nie só ’n memorandum onderteken nie.
AfriForum hou egter kwartaalliks ’n vergadering met die munisipaliteit om nuwe uitdagings wat opduik, vinnig uit te sorteer. Die burgerregteorganisasie het die munisipaliteit versoek om hierdie vergadering tot die volgende GOP-tydperk voort te sit.
“Die jaarlikse GOP is die ideale geleentheid vir AfriForum en die gemeenskap om hul besware en voorstelle aan die munisipaliteit te kommunikeer. Daarsonder sal die munisipaliteit baie meer uit voeling wees oor die uitdagings wat gemeenskappe in die gesig staar,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
“Die AfriForum-tak in Vryburg het ’n gesonde verhouding met die Naledi-munisipaliteit en beoog om dit so te hou om sodoende te verseker dat die gemeenskap se probleme vinnig opgelos kan word. AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteit toepas om te verseker dat hulle hul grondwetlike pligte nakom.”
Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke om jóú omgewing te help verbeter en beveilig. Klik hier vir meer inligting.



