AfriForum skenk drie waterpeerbome vir Hoërskool Bellville
Die burgerregteorganisasie AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het op 9 April drie waterpeerbome (syzygium guineense) aan Hoërskool Bellville geskenk om by die snoepie na aan hul hokkievelde te plant. Dit vorm deel van ’n groter vergroeningsinisiatief wat tans in die Wes-Kaap gedryf word.
’n Ouer verbonde aan die skool het AfriForum se Kaapstad-Noord-tak geskakel om te hoor of dié tak dalk kan help met bome om in die toekoms koelte te skep by die snoepie-area naby die hokkievelde waar leerders, ouers en toeskouers gereeld bymekaar kom.
“Wanneer ons bome plant belê ons in die omgewing en in die toekoms van ons kinders en die volhoubaarheid van ons gemeenskap,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se streekshoof in die suidstreek.
Volgens Bernard Pieters, ondervoorsitter van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak, kweek omgewingsbewusteheid ’n trots vir die natuur en laat dit die individu verstaan dat hulle deel is van iets groter.
“Ons bedank graag vir Adele Toua, ’n ouer van Hoërskool Bellville, wat ons gekontak het asook die departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing wat ons in hierdie projek ondersteun. Samewerking is die kern van enige volhoubare projek. Só kan ons saam ons skole mooi maak, veilig hou en versterk.”
AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het verskeie projekte wat daarop gemik is om skole te help. Die organisasie bied onder meer gratis skole veiligheidsoudits sodat skole bewus kan wees van die risiko’s wat hulle spesifiek in die gesig staar.
Die organisasie het ook onlangs vir die eerste keer die AfriFees by Hoërskool Bellville aangebied. Hierdie fees is ’n goeie fondsinsamelingsgeleentheid wat AfriForum aan Afrikaanse skole bied. Dié fees bied aan skole ’n prettige manier om ouers en die gemeenskap by die skool betrokke te kry en fondse in te samel. Belangstellende skole kan AfriForum kontak vir meer inligting hieroor.



