20 jaar van De la Rey: Ons vir jou keer terug met nuwe rolverdeling
In 2026 is dit 20 jaar sedert die vrystelling van Bok van Blerk se debuutalbum De la Rey – die ikoniese album wat ’n generasie aangegryp het en ’n blywende impak op die Afrikaanse musiek- en teaterwêreld gemaak het. Wat hierdie mylpaal besonder betekenisvol maak, is dat die sukses van dié album destyds ’n belangrike inspirasie was vir die ontwikkeling van die musiekspel Ons vir jou. Nou, twee dekades later, word hierdie verhaal opnuut gevier met die terugkeer van Ons vir jou, wat van 29 April by AfriForum Teater op die planke te sien is. Hiermee saam word ook AfriForum se twintigste bestaansjaar gevier.
Gehore kry ook nou die geleentheid om die stem wat hierdie liedere bekendgemaak het op die verhoog te ervaar in ’n nuwe konteks – ’n besondere oomblik waar musiek, geskiedenis en teater saamvloei. Hierdie viering word verder versterk deur ’n indrukwekkende stelontwerp deur Wilhelm Disbergen, internasionaal bekend vir sy werk en ’n ontvanger van verskeie Naledi-toekennings, sowel as ’n Fleur du Cap-toekenning. Die produksie word ondersteun deur AfriForum Teater se tegniese span, wat reeds verskeie toekennings en nominasies ontvang het, insluitend klankontwerper Pieter-Louis van Twisk en biligtingsoperateur Micheal Kruger.
Die ikoniese musiekspel neem nou verder gestalte aan met die aankondiging van ’n indrukwekkende volledige rolverdeling. Ná die vroeëre aankondiging dat Bok van Blerk die rol van generaal Koos de la Rey sal vertolk, sluit ’n sterk ensemble van ervare en geliefde teaterkunstenaars nou by hom aan om hierdie aangrypende verhaal tot lewe te bring.
In die rol van Nonnie de la Rey sal gehore vir Nadia Beukes, bekend vir haar werk in produksies soos Die Gelofte, Die Afrikaner maak so en Semi-Soet – die musiekblyspel sien. Morné Vogel vertolk Lord Methuen, terwyl Carl Trautman die rol van Lord Milner vertolk. Die rol van Adaan word vertolk deur Rico Immelman met Anika de Beer as Mariaan. Christopher Branders en Kristi Steyn vertolk onderskeidelik Kleinboet en Meisie, terwyl Jacques Broodryk die rol van president Paul Kruger vertolk.
Die ervare Révan Luüs, wat reeds in verskeie suksesvolle produksies te sien was, neem die rol van generaal Cronjé aan. Jaco Muller vertolk Siener met Matthew Potter as Thomas. Die veelsydige Zöricke Snyman vertolk Lady Rivers.
Die produksie word verder versterk deur ensemblelede Henro Heyl, JJ Roberts, Fouché Wessels, Abigail de Villiers en Elrica Smith, waarvan verskeie reeds hul merk gemaak het in vorige grootskaalse musiekteaterproduksies. Twee lede van hierdie uitgesoekte geselskap was ook destyds betrokke by die oorspronklike produksie van Ons vir jou – Nadia Beukes en Jaco Muller.
Ons vir jou, die Tweede Vryheidsoorlog-musiekspel uit die pen van Deon Opperman en Sean Else en met musiek deur Johan Vorster, het sedert sy debuut in 2008 diep aanklank gevind by Suid-Afrikaanse gehore. Hierdie nuwe weergawe bou voort op daardie ryk nalatenskap met ’n nuwe generasie kunstenaars wat die verhaal van oorlog, opoffering en identiteit weer vars en relevant na die verhoog bring. Hierdie produksie word in 2026 moontlik gemaak deur AfriForum in samewerking met Inhoud Huis Musiek en AfriForum Teater. Jannes Erasmus neem ook weer die regisseurstoel in vir sy vyfde musiekblyspel in samewerking met Inhoud Huis Musiek in die AfriForum Teater. Erasmus is ook ’n Naledi-bekroonde teatermaker en het ook al sy merk in die industrie gemaak as skrywer, regisseur en ook self as akteur.
Met die dreuning van kanonne en die klanke van geliefde liedere wat weer deur die teater sal weerklink, beloof hierdie produksie om gehore opnuut te ontroer en te laat nadink oor ’n bepalende tydperk in die geskiedenis.
Ons vir jou is van 29 April op die AfriForum Teater-verhoog. Kaartjies is reeds by www.onsvirjou.com beskikbaar.




