AfriForum rig aanmaningsbrief aan JB Marks-munisipaliteit oor infrastruktuurverval
AfriForum eis in ’n formele aanmaningsbrief wat vandag aan die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit gestuur is, die dringende herstel van en ’n volledige ingrypingsplan vir kritieke infrastruktuur in Potchefstroom. Die organisasie waarsku in sy skrywe dat die munisipaliteit homself aan ernstige regs- en finansiële aanspreeklikheid blootstel indien daar nie onmiddellik in dié verband opgetree word nie.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, verkeer dié dorp ná donker in ’n “volskaalse veiligheidskrisis”. Die meerderheid van die straatligte is buite werking, padmerkers is feitlik onsigbaar en minstens een verkeerslig by bykans elke verkeersligkruising is stukkend. Voorts belemmer oorgroeide plantegroei sigbaarheid, terwyl slaggate ook nie duidelik sigbaar is nie en motoriste aan ernstige skade en moontlike lewensgevaar blootstel.

“Hierdie situasie wys nie net op die munisipaliteit se voortslepende onbevoegdheid nie, dit wys op ’n versuim om grondwetlike en wetlike pligte na te kom. Die munisipaliteit het ’n duidelike verantwoordelikheid ingevolge artikel 152 en 153 van die Grondwet om ’n veilige en gesonde omgewing te bevorder en die basiese behoeftes van die gemeenskap te prioritiseer. Daardie verpligting word tans blatant versaak,” sê Pretorius.
Die organisasie wys verder daarop dat die Munisipale Stelselswet die munisipaliteit verplig om dienste op ’n volhoubare en verantwoordbare wyse te lewer, terwyl die Nasionale Padverkeerswet vereis dat verkeersbeheermaatreëls behoorlik in stand gehou moet word. ’n Versuim om paaie en verkeersinfrastruktuur in ’n redelik veilige toestand te hou, kan lei tot deliktuele aanspreeklikheid en siviele eise.
AfriForum het intussen ook klagtes ontvang van beweerde intimidasie, dreigemente van geweld en doodsdreigemente deur munisipale werkers. Luidens dié klagtes word inwoners en sakelui, wat self instandhouding voor hul eiendomme doen omdat die munisipaliteit versuim om dit te doen, intimideer.

“Indien hierdie bewerings waar is, dui dit op ’n skokkende misbruik van mag. In plaas daarvan om die gemeenskap te dreig, behoort die munisipaliteit saam met inwoners te werk. Samewerking sou die dorp verbeter, terwyl intimidasie vertroue vernietig en selfs strafregtelike implikasies kan hê,” beklemtoon Pretorius.
AfriForum het die munisipaliteit nou 14 dae gegun om ’n omvattende oudit en konkrete herstelplan met duidelike tydraamwerke voor te lê. Indien daar nie spoedig en sigbaar opgetree word nie, staan AfriForum gereed om regsadvies in te win en alle beskikbare remedies te oorweeg, insluitend moontlike litigasie, om inwoners se veiligheid en regte af te dwing.
“Die inwoners van Potchefstroom verdien veilige paaie, funksionerende infrastruktuur en ’n munisipaliteit wat sy werk doen. AfriForum is bereid om op te tree waar die munisipaliteit versuim,” sê Douglas Bourn, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak.



