Sokkerster Mogaila wil pleitooreenkoms aangaan – privaatvervolgingseenheid wil beeldmateriaal wys
Die sokkerster wat daarvan beskuldig word dat hy die motorongeluk veroorsaak het wat tot die dood van Gomolemo Mavimbela (9) en kritieke beserings van Thando Khethiwa gelei het, oorweeg dit om ’n pleitooreenkoms in die Thembisa Landdroshof aan te gaan. Hy staan tereg op aanklagte van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur. Shaune Mogaila se regspan het die hof Dinsdag in kennis gestel dat hulle ’n voorlegging aan die senior openbare aanklaer sal maak ingevolge artikel 105A van die Strafproseswet. AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat die slagoffers se moeders, Keo Mavimbela en Carol Khethiwa, verteenwoordig, dring egter daarop aan dat die beeldmateriaal van die ongeluk gewys word sodat die erns van die misdaad in ag geneem word wanneer die hof ’n gepaste vonnis oorweeg.
Gomolemo is op 30 Oktober 2024 op Andrew Maphetoweg in Tembisa dood toe Mogaila se motor met Keo s’n gebots het. Thando, die seun van Keo se vriendin, het kritieke beserings opgedoen. Die Sekhukhune United-vleuel het na bewering van die toneel gevlug en homself later dieselfde dag aan die polisie oorgegee. Hy is borgtog van R20 000 toegestaan.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid het aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geskryf om beide Keo en Carol se voorneme aan te dui om hul regte ingevolge die Strafproseswet uit te oefen deur voorleggings te maak in reaksie op die voorgestelde pleit- en vonnisooreenkoms. Mogaila se regspan het die hof meegedeel dat hul voorlegging binne die volgende week gemaak sal word. Die saak is gevolglik tot 30 Maart uitgestel.
Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê hoewel ’n behoorlike skulderkenning geregtigheid vir die slagoffers sal verseker, bestaan daar bekommernisse dat die oënskynlike haas om ’n pleit- en vonnisooreenkoms in te dien en af te handel, ’n poging kan wees om te verhoed dat sekere sleutelbewyse in die hof aangebied word. “Beeldmateriaal vanuit ’n motor wys hoe Mogaila se motor oor ’n wye busbaan swaai, skynbaar teen ’n hoë spoed, en met Keo se motor bots. Dit is van kritieke belang dat die hof daardie beeldmateriaal sien om die omstandighede rondom hierdie noodlottige botsing ten volle te verstaan.
“Soos ons gesien het in die geval van Jaco Swart, wat sy vrou Nicolene Swart genadeloos geslaan het, is hy feitlik oor die vingers getik omdat die hof nie die beeldmateriaal gesien het wat die wrede aard van die aanrandings gewys het nie. Net so glo ons dat die hof slegs ’n billike vonnis kan oplê as die beeldmateriaal van Mogaila se optrede gewys word,” sê Bateman.
Die eenheid sal die standpunte van die slagoffers aan die hof voorlê sodat die emosionele en fisiese letsels wat die Mavimbela- en Khethiwa-gesinne opgedoen het, ten volle verstaan kan word.



