AfriForum beklink oorwinning in Ngwathe-saak: Hof beslis bevel moet dadelik geïmplementeer word
Klankgreep: Alta Pretorius (Afrikaans)
Klankgreep: Alta Pretorius (Engels)
AfriForum het pas ’n reuse-oorwinning beklink in ’n uitgerekte hofsaak rakende swak dienslewering in die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit. Die burgerregteorganisasie se artikel 18(3)-aansoek wat vroeër vandeesmaand in die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein aangehoor is, is kragtens die uitspraak wat regter M. Opperman vandag elektronies gelewer het, toegestaan. Dit bepaal dat die hofbevel wat op 20 Junie verlede jaar in AfriForum se guns gelewer is, ondanks die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl by die Konstitusionele Hof, onmiddellik geïmplementeer moet word.
Die hof het in Junie 2025 beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit se raad moet ontbind en die provinsiale regering by die munisipaliteit moet ingryp. Sedertdien is die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl in dié saak in Augustus 2025 van die hand gewys. Die munisipaliteit het hom daarna tot die Hoogste Hof van Appèl gewend, maar hul appèlaansoek daar is ook in Oktober 2025 van die hand gewys. In dié uitspraak het die hof beslis daar is “geen redelike vooruitsig van sukses in ’n appèl nie en geen ander oortuigende rede waarom ’n appèl aangehoor behoort te word nie”. Intussen het die munisipaliteit aangedui dat dit die uitspraak in die Konstitusionele Hof gaan appelleer.
Ingevolge regter J.P. Daffue se Junie 2025-hofuitspraak moet die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:
- ’n herstelplan implementeer om dienslewering in die munisipaliteit te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;
- die Ngwathe- munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word;
- elke drie maande onder eed aan die hof verslag doen oor die vordering wat in die bestuur van die munisipaliteit gedoen word; en
- ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is verheug oor vandag se beslissende oorwinning. “Dit is tyd dat die munisipaliteit moet besef dat hulle nou hand aan die ploeg sal moet slaan en ook vir bekwame personeel sal moet plek maak om die diensleweringskrisis wat nou al jare lank hier voortduur in die belang van alle inwoners te beredder. Die afgelope maand gaan inwoners weer gebuk onder ongekende krag- en wateronderbrekings, maar hierdie bevel bied nou uiteindelik die ruimte om ware verligting te bring vir inwoners wat daaronder ly,” verduidelik Pretorius.
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, bedank die publiek vir hul ondersteuning en vertroue in AfriForum om dié saak suksesvol te kon aanpak: “Geregtigheid het nou in hierdie saak geskied. Dit was ’n lang en uitgerekte proses, maar ons hoop dat ons nou deur middel van samewerkingsooreenkomste met die munisipaliteit en met die hulp van toegewyde kundiges ’n pad van herstel sal kan stap saam met Parys en die ander dorpe in die munisipaliteit.”



