Kaapstad-Noord-tak bevorder Afrikaanse onderrig met skenking aan Hoërskool Bellville
AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het op Vrydag, 16 Januarie, nuwe HAT-woordeboeke, kopieë van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS), asook aanvullende Rekeningkunde-handboeke vir graad 8 en 9 aan Hoërskool Bellville geskenk. Die tak het op hierdie wyse ’n bydrae gelewer tot die bevordering van Afrikaanse onderrig.
Hierdie skenking vorm deel van AfriForum se volgehoue strewe om Afrikaanse skole te ondersteun en om te verseker dat moedertaalonderrig sterk, relevant en gesond bly. Toegang tot gehalte onderrigbronne is noodsaaklik vir leerlinge om akademies te presteer en om hul taalvaardigheid met selfvertroue te ontwikkel.
“Moedertaalonderrig is ’n hoeksteen van leer en begrip. Deur skole soos Hoërskool Bellville toe te rus met die nuutste weergawe van ons Afrikaanse woordeboeke en vakgerigte handboeke, belê ons in die toekoms van ons kinders,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se hoof van Gemeenskapstrukture in die suidstreek.
Hoërskool Bellville se Departement Afrikaans het AfriForum in ’n skrywe vir die skenking bedank en meen dat hierdie skenking ’n tasbare verskil in die daaglikse onderrigpraktyk van hul onderwysers en die leerervaring van hul leerders sal maak.
“AfriForum glo dat taal meer is as net ’n kommunikasiemiddel, dit is ’n draer van kultuur, identiteit en kennis. Die organisasie sal daarom voortgaan om praktiese projekte aan te pak wat Afrikaanse onderrig versterk en skole ondersteun waar dit die nodigste is,” sluit Ferreira af.
Bernard Pieters, ondervoorsitter van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak, voeg by dat Afrikaans ’n taal is wat herinneringe dra, mense verbind en nuwe drome ’n stem gee. “Ons plant net die saadjies deur ons dade en vertrou dat die skool daardie saadjies sal water gee en só sal help om Afrikaans as onderrigtaal te beskerm.”
Die Kaapstad-Noord-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by plaaslike skole en saam te werk om te verseker dat Afrikaans as onderrigtaal behoue bly en floreer.



