AfriForum-hofseges beskerm die regte van Jan Alleman
AfriForum se gebruik van regsaksies as ’n belangrike instrument om die regering, politici en ander kritieke instellings tot orde te roep, het in 2025 wéér talle vrugte afgewerp. Die burgerregteorganisasie het in die spreekwoordelike kryt geklim (én gewen) in verskeie opspraakwekkende sake wat in die belang van Afrikaners en die land in sy geheel aangepak is.
In 2025 het die organisasie regsukses gesmaak in sake soos dié teen die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) rakende hul onbillike goedkeuring van munisipale kragtariewe; die Inligtingsreguleerder (IR) oor hul poging om matriekresultate uit die media te hou; en gevegte teen swak dienslewering en onbillike tariewe by verskeie munisipaliteite (lees die volledige suksesverhaal oor laasgenoemde hofsake hier).
Enkele van dié sake en ander waarby AfriForum in 2025 betrokke was, beklemtoon die organisasie se vermoë om as rateltaai teenstander op te staan vir geregtigheid – ongeag wie die regte van die land se mense wil vertrap.
AfriForum vs Nersa
Buitensporige munisipale kragtariewe plaas verbruikers telkens in die knyp en hoewel die kragreguleerder Nersa moet help toesien dat die regte proses gevolg word vir die instelling van billike tariewe, vertel die praktyk ‘n ander verhaal. AfriForum het daarom in 2025 ingegryp om die proses wat gevolg is vir die 2025/2026-boekjaar se tariefverhogings in die hof uit te daag.
Die Pretoriase Hooggeregshof het in Oktober 2025 in AfriForum se guns beslis deur te verklaar dat Nersa nie behoorlike prosesse in die goedkeuring van munisipale kragtariewe gevolg het nie. Dié hof het beslis dat Nersa se goedkeuring vir die implementering van munisipale kragtariewe sonder die gebruik van behoorlike kostestudies en openbare deelnameprosesse, ongrondwetlik is.
Die uitspraak het voorts bepaal dat vaste tydlyne gevolg moet word waarvolgens Nersa Eskom se nuwe kragtariewe moet aankondig om aan verbruikers genoegsame geleentheid te gee om aan die openbare deelnameprosesse deel te neem.
“Hierdie is nie net ’n oorwinning vir AfriForum en sy lede nie, maar vir elke persoon wat elektrisiteit betaal. Hierdie uitspraak verseker dat Nersa ’n proses volg waar verbruikers ’n behoorlike en regverdige sê kan hê in munisipale kragtariefverhogings en dat Nersa en munisipaliteite hulle nie ’n rat voor die oë kan draai nie,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake.
Julius Malema loop sy rieme styf oor afvuur van vuurwapen
Julius Malema, leier van die EFF, het in Oktober verlede jaar sy rieme behoorlik styf geloop toe hy in die Landdroshof in Oos-Londen skuldig bevind is op vyf aanklagtes teen hom, waaronder die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude of openbare gebied sonder genoegsame rede, die onwettige besit van ’n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.
Hierdie skuldigbevinding volg ná AfriForum reeds in Augustus 2018 strafregtelike klagtes teen Malema aanhangig gemaak het ná hy ’n vuurwapen afgevuur het tydens die EFF se vyfde verjaarsdagviering wat op 28 Julie 2018 net buite Oos-Londen gehou is. Die burgerregteorganisasie het ’n kritieke rol gespeel om toe te sien dat vervolging geskied – iets wat sonder die organisasie se betrokkenheid waarskynlik nooit sou gebeur het nie.
AfriForum beskou dié uitspraak as ’n reuseoorwinning in die organisasie se stryd om te verseker dat niemand bo die reg verhewe is nie. (Vonnisoplegging in dié saak vind later vandeesweek plaas. Hou AfriForum se sosiale media dop vir meer inligting hieroor.)
“AfriForum sal voortgaan om toe te sien dat geregtigheid geskied waar individue met politiese bande betrokke is, net soos in die geval van enige ander burger,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
AfriForum verseker die reg op publikasie van matriekuitslae
Die matriekuitslae van 2024 en 2025 se matrieks kon danksy AfriForum en ander belanghebbendes se toetrede tot ’n hofsaak in Pretoria steeds onder hul eksamensnommers gepubliseer word. AfriForum het in ’n hofgeding teen die Inligtingsreguleerder (IR) te staan gekom wat met alle mag en mening die publikasie van matriekuitslae in die media wou verhoed. Die IR het aangevoer dat die bekendmaking van matriekuitslae in die media leerders se privaatheid sou skend.
AfriForum het egter vroeg verlede jaar met ’n dringende aansoek ’n interdik bekom om seker te maak 2024 se matrieks kan hul uitslae in koerante te sien kry. Dié uitspraak het net die dringende kwessie van publikasie vir die 2024-matrikulante hanteer en die meriete van die saak moes daarom nog in meer diepte ondersoek word. Dit is uiteindelik tydens ’n saak voor ’n volbank regters gedoen wat in Desember verlede jaar bevind het dat die publikasie van matrikulante se uitslae onder hul eksamennommers wel hul privaatheid genoegsaam beskerm.
WANATU-pendeldiens rits voort danksy AfriForum
WANATU bied sedert Oktober 2024 ’n Afrikaanse e-vervoerdiens in Pretoria en Centurion. Hul dienste is in Februarie 2025 onverwags gestaak toe die Tshwane-metropolisie (TMPD) van WANATU se voertuie geskut het. Die TMPD het aangevoer WANATU het nie die nodige permitte om e-vervoerdienste te lewer nie. WANATU kon egter met die hulp van AfriForum se regspan vinnig weer dienste hervat.
AfriForum het in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria ’n dringende interdik bekom wat die skut van WANATU se voertuie verbied het totdat die proses om permitte te bekom weer in werking gestel is. Daar is in die hof bewys dat ’n agterstand by die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer dit onmoontlik gemaak het om die korrekte permitte te bekom. Dié departement het vir het vir ’n tydperk die aanvaarding en verwerking van aansoeke heeltemal gestaak.
Volgens Judith van der Walt, uitvoerende hoof van WANATU, was hierdie nie net ’n oorwinning vir bestuurders van e-vervoerdienste nie, maar vir alle Pretorianers wat ’n behoefte aan veilige en gerieflike vervoer het. “Dit is ’n oorwinning vir elke e-pendeldrywer in die Tshwane-metro. Die stad kan nie drywers straf vir ’n agterstand wat hulle nie veroorsaak het nie,” het Van der Walt ná die uitspraak beklemtoon.



