|

Laerskool Elarduspark wen AfriForum se eerste SLIM-Skolekompetisie

’n Gees van opgewondenheid het vanoggend (20 Januarie 2026) by die Laerskool Elarduspark in Pretoria geheers toe hierdie skool aangewys is as die wenner van AfriForum se eerste SLIM-Skolekompetisie. SLIM staan vir “Studeer en Leer in jou Moedertaal” en met hul deelname aan hierdie kompetisie het Lardies se “Legends” die slim keuse gemaak en 24 ander laerskole in Pretoria en Centurion uitgestof om dié kompetisie, wat in die vierde kwartaal van 2025 aangebied is, te wen.

Ouers van die onderskeie skole moes bloot ’n kort aanlyn vraelys voltooi om vir individuele pryse in aanmerking te kom, maar ook om hul betrokke skool te help om as algehele wenner aangewys te word.

Alex en Luke Appel, Marilize Rossouw en Chanté en Caylee Abbey se ouers het pryse gewen tydens AfriForum se SLIM-Skolekompetisie. Bessie, Matteus en Bertie was vandag by die Laerskool Elarduspark om hulle geluk te wens.

Elarduspark het met hul oorwinning R10 000 in kontant sowel as verskeie ander pryse gewen wat AfriForum se verbintenis tot skole en hul taak as gemeenskapsbouers herbevestig. Lardies sal onder meer vir ’n dag gratis van AfriForum Teater kan gebruik maak, terwyl Forum Sekuriteit ’n veiligheidsassessering by die skool gaan doen en die sekuriteitskoördinering van een skoolgeleentheid gratis sal onderneem. AfriForumTV sal op sy beurt vyf regstreekse uitsendings van skoolgeleenthede behartig en AfriForum sal ’n bemarkingsvideo vir Laerskool Elarduspark saamstel.

Dit is egter nie al nie. Die prys sluit nog vele opknappings- en instandhoudingswerk in wat AfriForum gratis vir die skool gaan aanpak op die skoolterrein sowel as die omliggende paaie. AfriForum se Pretoria-buurtspan staan byvoorbeeld reeds slaggereed om met grassnywerk by Elarduspark weg te spring en vir ’n jaar lank hierdie kommervrye diens te bied. Die buurtspan sal ook help met instandhouding en herstel van paaie om die skool deur die herstel van slaggate, die verf van padmerkers en, waar nodig, die vervanging van padtekens. Daarbenewens sal AfriForum ook die skool met die goedkeuringsproses help indien daar nog spoedhobbels om die skool benodig word.

Om seker te maak dat die wenskool altyd genoeg water het en ’n “groen” voet voor sit, gaan AfriForum ook ’n noodwaterpunt op die skoolterrein aanbring en 20 asblikke vir herwinningsdoeleindes aan die skool skenk.

Toy Human, hoof van Laerskool Elarduspark, het by die geleentheid gesê die skool is opgewonde oor hul oorwinning en die pryse wat hulle gewen het. Voorts het hy AfriForum bedank vir die pryse en die organisasie se betrokkenheid by die skool. “Die kinders het die dag terdeë geniet en ons sê dankie dat AfriForum self hier was om die pryse te oorhandig.”

“Dit was vir ons baie lekker om betrokke te wees by hierdie kompetisie. By AfriForum beskou ons ons as toekomsbouers én gemeenskapsbouers en daarom het ons hierdie kompetisie aangepak. Ons wens Laerskool Elarduspark geluk, maar daag ook ander skole uit om in 2026 aan die kompetisie deel te neem,” sê Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum.

Om meer oor die 2026-kompetisie uit te vind stuur ’n e-pos aan Shinelle.Brewis@afriforum.co.za.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Ons is Afrikaners, Veiligheid