| |

Geliefde musiekspel Ons vir jou in 2026 op die planke met Bok van Blerk as genl. De la Rey

Ons vir jou, die Tweede Vryheidsoorlog-musiekspel uit die pen van Hertzogpryswenner Deon Opperman en Sean Else en met musiek deur Johan Vorster, kom in April 2026 vir die eerste keer in meer as ’n dekade weer op die planke. Bok van Blerk, musikant, akteur en touleier van die sogenaamde De la Rey-generasie, gaan boonop die rol van die rateltaai Boeregeneraal Koos de la Rey vertolk in dié produksie wat hierdie keer met ’n geknal van Mausers en die dreuning van kanonne na die AfriForum Teater in Pretoria kom.

Dié ikoniese musiekspel, die eerste vollengte musiekspel oor die verwoestende oorlog van 1899–1902, het in 2008 in die Staatsteater gedebuteer. Dit het daarna op publieke aandrang in 2009 en 2012 teruggekeer na die Staatsteater waar dit weer uitverkoopte speelvakke beleef het. Die produksie het selfs in 2013 ’n Kaapse draai gemaak toe dit by die Artscape-teater opgevoer is.

Hierdie keer vat AfriForum en die span van Inhoud Huis Musiek, wat verantwoordelik was vir musiekteatertreffers soos Die Gelofte, Die Kaplyn, Die Afrikaner maak so en Semi-Soet – die musiekblyspel, hande om dié verhaal na die AfriForum Teater te bring.

Gehore kan nou weer gereed maak om weggevoer te word na die tyd waar die stryd tussen Boer en Brit gewoed het op die vlaktes van Magersfontein, waar die verskroeideaardebeleid vorm aangeneem het en die tragedie van oorlog deel van elke dag se bestaan geword het. Die klanke van treffers soos “Ons vir jou, Suid-Afrika”, “Vergeet my nie” en “De la Rey” gee dié groot verhaal boonop in egte musiekteaterstyl waarlik lewe.

In 2008 het Opperman tereg verklaar: “Die musiekspel-genre gee jou die kans om groot stories op ’n groot doek te vertel. Ons vir jou is inderdaad ’n groot storie wat die impak van die Boereoorlog op die vorming van die Afrikanervolk met deernis en passie uitbeeld. En alles wat nodig is vir ’n goeie Boereoorlog-storie is in die teks teenwoordig – die heldedade, die liefdesverhale, die slagvelde.”

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is Ons vir jou meer as net ’n musiekpel. “Dit plaas die menslike stories en opofferings van die oorlog opnuut op die voorgrond. AfriForum en die AfriForum Teater is trots om hierdie ikoniese stuk kultuurerfenis terug te bring, want wanneer ons weet wie ons as Afrikaners was, verstaan ons beter wie ons vandag is, en vind ons die inspirasie om te bou aan wie ons in die toekoms kan wees.”

Vorster en Jacomien de Wet-Vorster van Inhoud Huis Musiek meen die tyd is ryp om De la Rey se verhaal weer op die planke te bring. “Om die voorreg te hê om die verhaal van generaal Koos De la Rey en die Tweede Vryheidsoorlog, met die medium van ’n musiekspel, te mag deel met ’n gehoor amper 20 jaar nadat dit die eerste keer op die planke was, is vir ons ’n droom wat waar word. Ons is baie dankbaar aan al die rolspelers, skrywers en akteurs wat reeds besluit het om die produksie te ondersteun. Dit is inderdaad tyd!”

Oudisies vir die res van die rolverdeling, insluitende dié van Nonnie de la Rey, Adaan de la Rey, Paul Kruger, Siener van Rensburg, Lord Alfred Milner en Lord Methuen, open binnekort.

Die Ons vir jou-musiekspel is vanaf April 2026 in die AfriForum Teater op die planke. Kaartjies is nou reeds beskikbaar by www.onsvirjou.com.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners