AfriForum vra duidelikheid oor JB Marks se “Beste Presterende Munisipaliteit”-toekenning
AfriForum se Potchefstroom-tak het gister ’n formele skrywe aan die organiseerders van die Suid-Afrikaanse Eiendomseienaarsvereniging (SAPOA) gerig waarin versoek word dat die volledige beoordelingskriteria en prosesse wat gebruik is om die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit as die beste presterende munisipaliteit in Noordwes aan te wys, bekend gemaak word. SAPOA het die beste presterende munisipaliteite op 2 Oktober tydens ’n galageleentheid by Sun City aangekondig.
Hoewel AfriForum erkenning vir goeie munisipale bestuur verwelkom, vind die organisasie hierdie toekenning uiters problematies in die lig van die ernstige en voortdurende probleme met dienslewering wat inwoners van Potchefstroom, Ventersdorp en omliggende gebiede ervaar.
Hieronder tel talle waterlekkasies, rioolbesoedeling en -blokkasies, straat- en verkeersligtewat nie werk nie, vervaagde padmerke en strate vol slaggate. Boonop het die munisipaliteit se Eskom-skuld in minder as twee jaar van nul tot meer as R500 miljoen gestyg, terwyl sleutelfigure in die bestuur, insluitend die huidige munisipale bestuurder, ondersoek word vir korrupsie.
In die brief vra AfriForum dat die volgende inligting aan die publiek beskikbaar gestel word: Die beoordelingskriteria en weegfaktore wat gebruik is; die name en onafhanklikheid van die beoordelingspaneel; die data of bewysmateriaal wat deur die munisipaliteit verskaf is; en of diensleweringsprobleme, finansiële wanbestuur en korrupsie-ondersoeke in die beoordeling oorweeg is.
Volgens Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Mooirivier, is dit ondenkbaar dat ’n munisipaliteit wat in so ’n toestand van verval verkeer, bekroon word as die beste presteerder in die provinsie. Tensy die beoordelingskriteria en die manier waarop dit toegepas is, openbaar gemaak word, ondermyn sulke toekennings die publiek se vertroue en is dit beslis baie twyfelagtig.
“AfriForum glo dat deursigtigheid en aanspreeklikheid ononderhandelbaar is wanneer prestasie in plaaslike regering beoordeel word, veral waar erkenning die geloofwaardigheid van gemeenskappe raak wat daagliks die gevolge van swak bestuur dra,” sluit Pretorius af.
Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak Douglas Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.