Provinsiale ingryping sou Knysna-munisipaliteit destabiliseer, politieke inmenging verhoog – AfriForum
AfriForum verwelkom die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se besluit vandag (26 September) om die voorstel om die Knysna Plaaslike Munisipaliteit onder administrasie te plaas, van die hand te wys. Dit bevestig dié burgerregteorganisasie se standpunt oor die voorgestelde vorm van ingryping by dié sukkelende munisipaliteit, naamlik dat provinsiale ingryping wat polities gedryf word, gedoem is om te faal en administratiewe destabilisering en vertragings in dienslewering tot gevolg sou hê.
Die NRP se besluit volg op die voorstel van die Wes-Kaapse regering op 12 September om Knysna se munisipale raad te ontbind ingevolge artikel 139(1)(c) van die Grondwet – die mees ingrypende en destabiliserende vorm van provinsiale ingryping. Anton Bredell, provinsiale minister van Plaaslike Regering in die Wes-Kaap, het gepoog om ingryping ingevolge dié artikel af te dwing. Artikel 139(1)(c) bepaal onder meer dat die munisipale raad ontbind moet word, ’n administrateur aangewys moet word en ’n herverkiesing van die raad binne 90 dae gedoen moet word.
AfriForum het egter gewaarsku dat dié plan nie oor verbetering van dienslewering gaan nie, maar oor politieke beheer. Die organisasie het voorts ook gewaarsku dat die voorgestelde benadering riskant is, en het voorgestel dat die implementering van artikel 139(1)(b) in die geval van Knysna veel gunstiger sal wees. AfriForum het dié alternatiewe voorstel met aanbevelings vir die implementering daarvan vandeesweek tydens ’n vergadering van die parlement se gekose komitee vir Samewerking en Openbare Administrasie voorgelê. Hiertydens is ook gewys op die moontlike gevare van die provinsie se plan.
“AfriForum is nie gekant teen ingryping nie”, sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap. “Inteendeel, die toepassing van artikel 139(1)(b) – ’n geteikende, funksionele ingryping met die aanstelling van administrateurs om kritieke probleemareas soos finansies, infrastruktuur en aankope, te oorsien – sal die meer verantwoordbare en doeltreffende opsie vir Knysna wees. Hierdie benadering sal die vordering wat die afgelope tyd in die munisipaliteit gemaak is, in beskerming neem en nie geheel en al vernietig nie.”
AfriForum hou derhalwe steeds vol dat die implementering van artikel 139(1)(b) oorweeg moet word om die ernstige probleme in Knysna reg te ruk. Die organisasie se aanbevelings is saamgevat in ’n driepuntplan, en beveel aan dat:
- gefokusde administrateurs aangestel word in departemente waar die grootste probleme ervaar word, naamlik in infrastruktuur, aankope en finansies;
- sleutelpersoneel vir ’n proeftydperk aangestel word, terwyl ondersoeke na bedrog en wanbestuur onderneem word; en
- sluit vennootskappe met gemeenskapsorganisasies (soos AfriForum, Infrastructure Group, Greater Knysna Business Chamber, Revive Sedgefield, en Revive Knysna om toesig en monitering te doen en sodoende deursigtigheid en aanspreeklikheid te bevorder.
Erasmus sê AfriForum se boodskap aan die owerhede is eenvoudig: “Hou op met die politiekery en bied die dienslewering wat die inwoners nou broodnodig het. Wanneer twee olifante baklei, is dit die bome wat seerkry – en in dié geval is dit die inwoners van Knysna wat die gevolge dra van magsug en ’n politieke geskarrel. Ons steun ingryping, mits dit doeltreffend, geteiken en tydelik is, en nie polities gemotiveerd nie. Die gemeenskap van Knysna kan nie langer ’n politieke speelbal wees nie,” sluit Erasmus af.
AfriForum gaan intussen onverpoosd voort om aan praktiese oplossings te werk. As voorbeeld hiervan gaan die Knysna-tak van 1 tot 6 Oktober sy Bou en Volhou-week aanpak. Tydens dié week lange veldtog gaan vrywilligers en gemeenskapslede aktief projekte soos die herstel van slaggate, verf van padmerkers en spoedhobbels sowel as verskeie ander projekte wat as munisipale verantwoordelikhede geag word, aanpak.
Kontak Marthinus Erasmus vir meer inligting (marthinus.erasmus@afriforum.co.za of 081 216 9602) of sluit vandag nog aan by AfriForum se Knysna-tak en bou saam aan ’n kultuur van selfdoen, verantwoordelikheid en gemeenskapstrots.