|

Van Groenkalkoentjies tot Bokhorinkies: AfriForum nooi publiek om Langebaan in volle blom te sien

Die AfriForum-tak in die Weskus het vandeesweek die aanbreek van lente saam met die Longacres Huiseienaarsvereniging en plaaslike inwoners van die gebied gevier deur die wandelroete, waar van die mooiste veldblomme in Langebaan te siene is, amptelik oop te stel. Hierdie unieke omgewingsprojek, wat reeds in 2020 tot stand gebring is, is ’n lewende getuienis van wat moontlik is wanneer gemeenskappe saamstaan om hulle omgewing en erfenis vir toekomstige geslagte te bewaar.

Die staproete, wat sowat 2 km strek, bied aan besoekers die geleentheid om die ryk blom- en plantverskeidenheid van die Weskus te bewonder. Die roete is gratis en kombineer ontspanning, opvoeding en erfenisbewaring op ’n besonderse manier.

Die opening is op AfriForum se uitnodiging deur me. Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, waargeneem wat ’n lint geknip het om die nuwe seisoen te vier. Sy het die projek as ’n “wonderlike inisiatief” bestempel “wat help om die land se erfenis vir die toekoms te bewaar”. Sy was veral beïndruk met die meer as 100 borde al langs die roete waarop die plante met hulle Afrikaanse name en foto’s aangedui word.

“Die Afrikaanse name is só beskrywend en daar is geen taal soos Afrikaans om dit te beskryf nie,” het Zillegesê.

“Onder die name wat besoekers op die roete teëkom, is die Groenkalkoentjie, Koggelmandervoet, Poprosie, Sieketroos en Bokhorinkie. Dit herinner besoekers opnuut dat ons taal en natuur onlosmaaklik deel van ons erfenis is,” sê Sidney Monk, voorsitter van AfriForum se Weskus-tak.

“AfriForum speel ’n sleutelrol in die bemarking en finansiële ondersteuning van die projek en bevorder dit juis omdat dit mense bewus maak van hulle omgewing en die waarde daarvan om dit vir ons nageslag te bewaar. Dit is ’n belegging in hoop en in die toekoms van ons kinders,” sluit Monk af.

AfriForum sien die Longacres-staproete as ’n voorbeeld van praktiese gemeenskapsbou en nooi die publiek uit om dié unieke blom- en erfeniservaring te kom geniet.

Besoek sluit-aan.afriforum.co.za om by AfriForum se tak in die Weskus betrokke te raak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf