Slegs 2 uit 23 vullisterreine in Mpumalanga slaag AfriForum-vullisterreinoudit
Uit die 23 vullisterreine in Mpumalanga wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit geoudit is, kon net twee terreine, naamlik die Hendrina-oorlaaistasie in die Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit en die Witrivier-oorlaaistasie in die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit, aan die mees basiese vereistes van vullisterreinbestuur voldoen. Die provinsie, waar slegs 9% van terreine aan 80% of meer van die ouditvereistes kon voldoen, het boonop net-net beter gevaar as die Noord-Kaap, Limpopo en die Vrystaat waar onderskeidelik slegs 8%, 7% en 5% van terreine die oudit kon slaag.
AfriForum het vanjaar 169 van die land se 544 vullisterreine, oftewel nagenoeg ’n derde van die land se terreine, geoudit. Uit die 169 terreine kon slegs een uit elke vyf terreine die oudit slaag.
“Met slegs een uit elke vyf vullisterreine wat voldoende basiese maatreëls het om die publiek teen die operasionele gevare van vullisterreine te beskerm, bevestig die uitslae van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit weereens dat die meerderheid munisipaliteite landwyd nie in staat óf bereid is om basiese funksies van dienslewering te verrig nie,” verduidelik Marais de Vaal, samesteller van die vullisterreinouditverslag en raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.
Mpumalanga – waar vier terreine ’n nakomingspunt van nul behaal het – het vanjaar sy powere prestasie slegs marginaal verbeter deur provinsie se gemiddelde nakomingspunt van 36% in 2024 tot 40% op te stoot. Die oudit bewys egter dat die meerderheid vullisterreine in dié provinsie ernstige risiko’s inhou en waarskynlik skuldig is aan lug-, water- en grondbesoedeling.
Uit die 23 vullisterreine wat in Mpumalanga geoudit is, kon die volgende ses terreine nie eens ’n nakomingspunt van 10% behaal nie (die nakomingspunt is in hakkies aangedui):
Morgenzon, Lekwa Plaaslike Munisipaliteit (0)
Machadodorp, Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit (0)
Lydenburg, Thaba Chweu Plaaslike Munisipaliteit (0)
Evander, Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit (0)
Dullstroom, Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit (2)
Kinross, Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit (2)
Die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit sowel as die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit het hul jare lange swak prestasie ten opsigte van afvalbestuur vanjaar voortgesit. Nie een van dié twee munisipaliteite – waarbinne onderskeidelik dorpe soos Bethal, Secunda, Leandra en Kinross; en Belfast, Machadodorp en Dullstroom ressorteer – se vullisterreine kon die oudit slaag nie.
Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, bestempel die munisipaliteite se swak prestasie as teleurstellend. “Daar is geen beheer nie en rommelstrooiers neem al die terreine oor. Die eenvoudigste take wat munisipaliteite moet verrig, word nie eens nagekom nie. Toegangsroetes na vullisterreine is in ’n haglike toestand en sodra dit reën word die paaie en terreine onbegaanbaar. Die terreine is nie omhein nie en vure word gereeld op die persele gemaak. Hierdie munisipaliteite is aandadig aan die skep van ’n omvangryke ekologiese ramp,” beklemtoon Bekker.
Volgens Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, dra die sluiting van vullisterreine in die Laeveld by tot ernstige probleme en maak munisipaliteite geen alternatiewe planne om toegang tot vullisterreine te verbeter nie. Hoewel die terreine in Machadodorp en Dullstroom reeds gesluit is, het inwoners geen ander uitweg as om steeds hul vullis daar te stort nie. “Hierdie versuim om in te gryp, lei noodwendig tot onwettige storting van vullis in en om hierdie dorpe,” verduidelik Van Heerden. “Boonop bied probleme soos stukkende heinings, onvoldoende herwinningsdienste, onklaar weegbrûe en ’n algehele afwesigheid van sekuriteit op spesifiek die Belfast-vullisterrein ernstige probleme. Dit skep nie net ’n ernstige gesondheidsrisiko vir inwoners nie, maar dra ook by tot die voortslepende agteruitgang van die dorp, sy omgewing en verswak die beeld van die dorp.”
AfriForum sal nou die ouditbevindings aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing voorlê en eis dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul mislukte pogings om vullisterreine te bestuur. Die burgerregteorganisasie sal ook voortgaan om gemeenskapsgebaseerde oplossings te bevorder, soos sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en landswye herwinningsprojekte. “Dit is slegs deur hierdie pogings wat gemeenskappe voorspoedig sal wees ongeag die toestande waarin munisipaliteite hulself bevind,” sluit De Vaal af.