AfriForum reël ‘hulp’ vir Tshwane-nooddienste om brand te bestry
AfriForum se Noord van die berg-tak het van Dinsdag ’n stootskraper beskikbaar gestel om die Tshwane-nooddienste te help om ’n brand by ’n buitebandherwinningsaanleg op Klerksoord AH, Akasia, in die noorde van Pretoria, finaal te blus. Dié verwoestende brand het Saterdag uitgebreek en teen Woensdagoggend is daar steeds gewroeg om die smeulende bande in bedwang te bring.
Die nooddienste het die gevaarlike omstandighede braaf aangepak maar was deurlopend met verskeie uitdagings geteister. Terselfdertyd het die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit ook onder skerp kritiek deurgeloop nadat hoë geplaaste amptenare private brandweerdienste, wat wou help om die brand te blus, van die toneel af weggewys het. Dit is toe dat die plaaslike AfriForum-tak op eie onkoste ’n stootskraper beskikbaar gestel het om die brandbestryders met dié uitmergelende taak te help.
“In ’n geval soos dié verwoestende brand is die gemeenskap se veiligheid en gesondheid eerste prioriteit. Ons kan nie terugsit en toekyk hoe politici en amptenare die gemeenskap en hul eie brandbestryders in gevaar stel vir politieke gewin nie, daarom moes ons self ingryp,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.
Te midde dié brand veg die Tshwane-metro met hand en tand in die Pretoriase Hooggeregshof om private brandweerdienste wat in die metro funksioneer, onwettig te laat verklaar. Die metro hou vol dat hulle volkome kapasiteit het om die nodige nooddienste te lewer. Volgens Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid wys die gebeure van die afgelope paar dae egter presies die teenoorgestelde: Private dienste in die metro is noodsaaklik om lewens en eiendom te beskerm en gemeenskappe veilig te hou.
“Hierdie voorval is ’n toonbeeld van ’n breër patroon van staatsverval in die Tshwane-metro. Net soos die metro se water- en elektrisiteitsnetwerke verval, paaie in duie stort en basiese dienslewering afneem, het die metro se vermoë om brandveiligheid te bestuur ook verbrokkel,” sluit Roodt af.
AfriForum moedig die publiek aan om hul hande sterk te maak in die stryd teen staatsverval deur ’n bydrae te maak aan AfriForum se noodfonds of deur ’n lid te word van ’n AfriForum-tak. Besoek www.wordlid.co.za om meer uit te vind.

