11 AfriForum-buurtwaglede kwalifiseer as skietinstrukteurs in die Wes-Kaap
AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid het die afgelope naweek 11 buurtwaglede in die Wes-Kaap as skietinstrukteurs opgelei. Die doel van hierdie opleiding is om AfriForum-buurtwaglede toe te rus met die nodige kennis en vaardighede oor vuurwapens, sodat hulle eindelik ook skietopleiding in hul gemeenskappe kan aanbied. Al hoe meer gemeenskappe word hierdeur touwys gemaak oor die verantwoordelike en doeltreffende gebruik van vuurwapens vir selfverdediging.
Die AfriForum-buurtwagte wat aan die jongste opleidingsessie deelgeneem het, is in De Rust, Victoriabaai, Groot-Brakrivier, Midbrak, Danabaai, Herbertsdale en Brandwag gesetel.
Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, sê die uiteindelike doel is om minstens een persoon per AfriForum-tak of -buurtwag op te lei, sodat elke gemeenskap oor ’n gekwalifiseerde instrukteur beskik. Hierdie opleidingsprogram is in September 2022 van stapel gestuur en het reeds verskeie suksesvolle sessies opgelewer.
Die kursus, wat deur AfriForum gefasiliteer word, kwalifiseer buurtwaglede as geakkrediteerde baanoffisiere en basiese skietinstrukteurs. Diegene wat opgelei word, stel hul dienste gratis aan buurtwag- en taklede beskikbaar en fasiliteer skietoefeninge in samewerking met die plaaslike buurtwag- of takbestuur.
“Hierdie inisiatief is deel van AfriForum se deurlopende strewe om gemeenskappe meer selfstandig en weerbaar te maak. Deur opleiding en ontwikkeling in selfverdediging te prioritiseer, word gemeenskappe in staat gestel om proaktief hul eie veiligheid te verbeter,” sê Broodryk.
Sluit by jou naaste AfriForum-buurtwag aan by www.afriforumbuurtwag.co.za.