Wetsontwerp wat onwettige mynbou wil formaliseer is ’n resep vir wettige anargie
Die departement van Minerale Hulpbronne en Energie se voorgestelde Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale Hulpbronne (2025), waarin die wettiging van sogenaamde kleinskaalse mynbou voorsien word, is blote oëverblindery, meen AfriForum. Hoewel die departement voorgee dat hierdie beleid toegang tot hulpbronne en ekonomiese groei sal bevorder, is dit volgens die organisasie duidelik dat dit in werklikheid ’n wettiging van omgewingsvernietiging onder die dekmantel van ekonomiese bemagtiging is.
Volgens die wetsontwerp verwys kleinskaalse mynbou na tradisionele en gewone mynboubedrywighede wat ongemeganiseerde en primitiewe metodes gebruik om minerale op die oppervlak of na aan die oppervlak te ontgin. Kleinskaalse mynbou word ook beperk tot bedrywighede in ’n area kleiner as 1,5 hektaar en vir ’n tydperk korter as twee jaar.
Hierdie wetsontwerp word bekendgestel terwyl Suid-Afrika reeds landwyd onder beleg is van onwettige mynbou – met onlangse voorbeelde van vernietigende onwettige aktiwiteite van goudmynbou aan die oewer van die Blyderivier in Mpumalanga. Die sogenaamde zama-zamas is sinoniem met misdaad, geweld en omgewingsvernietiging. Daar is bewyse van waterafleidings, grondversteuring en besoedeling met gevaarlike chemikalieë soos arseen en kwik.
Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, misluk die departement reëlmatig daarin om omgewingsregulasies teenoor grootskaalse myne af te dwing. Mynmaatskappye wat deur hul nalatige optrede die lug, grond en waterhulpbronne besoedel, kom weg met minimale aanspreeklikheid. Boonop sukkel die departement steeds om ’n funksionele kadasterstelsel te implementeer – ’n noodsaaklike databasis wat moet byhou watter grond aan watter mynregte onderhewig is. Die huidige gebrek aan die doeltreffende bestuur van ’n kadasterstelsel het reeds gelei tot die uitreiking van meer as een mynreg oor dieselfde stuk grond, dispute oor grondeienaarskap en vertragings in lisensiëring. Hierdie tekortkominge sal waarskynlik vererger indien honderde of selfs duisende nuwe permitte vir kleinskaalse mynbou daarby gevoeg moet word.
“Die zama-zama-krisis kan nie bloot met ’n amptelike stempel gewettig word nie. Om sulke praktyke nou te probeer wettig sonder ’n robuuste administratiewe ruggraat, voldoende voorsorgmaatreëls en die nodige kapasiteit om dit te reguleer, is nie net roekeloos nie maar ’n direkte bedreiging vir die land se watersekerheid, landbou en biodiversiteit,” sê De Vaal.
AfriForum eis dat hierdie wetsontwerp aan deeglike wetenskaplike beoordeling onderwerp word en dat betekenisvolle openbare deelname sal plaasvind voordat enige wetgewing aanvaar word. AfriForum sal formele besware teen die wetsontwerp indien en doen ’n beroep op gemeenskappe, omgewingsgroepe en burgerregteorganisasies om hul stem te laat hoor teen hierdie onaanvaarbare beleid. Die publiek kan tot 13 Augustus beswaar indien.