Wetsontwerp op Tradisionele en Khoi-San-leierskap in stryd met VN-deklarasie, AfriForum vra minister om dringend in belang van kultuurgemeenskappe op te tree
Die Wetsontwerp op Tradisionele en Khoi-San-leierskap, 2024 (WTKL) in sy huidige vorm is volgens AfriForum in stryd met die Verenigde Nasies se Deklarasie vir die Regte van Inheemse Volke (UNDRIP). AfriForum het daarom vandag ’n beroep op Velenkosini Hlabisa, minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (SRTS) gedoen om in belang van kultuurgemeenskappe op te tree en noodsaaklike wysigings op dié wetsontwerp aan te bring.
AfriForum het ook aangedui dat die wetsontwerp verander moet word om respek teenoor en waardigheid van koninklike leiers, families en gemeenskappe te weerspieël, en om hulle te bemagtig om die rigting wat hulle wil volg, self te bepaal. Die brief aan die minister volg kort op die hakke van AfriForum se geskrewe kommentaar op die wetsontwerp wat verlede week ingedien is.
Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, is die bewoording van die wetsontwerp baie kommerwekkend. In ’n parlementêre antwoord van 2023 het die ministerie van SRTS UNDRIP geprys as ’n raamwerk van “minimum standaarde vir die oorlewing, waardigheid en welstand van inheemse mense” wat “uitbrei oor bestaande menseregte-instrumente en verduidelik hoe dit van toepassing is op die spesifieke omstandighede van inheemse volke”. Ten spyte van die Suid-Afrikaanse regering se onderskrywing van hierdie VN-deklarasie, staan die WTKL in skrille kontras met die beginsels wat die deklarasie probeer beliggaam.
In sy brief aan Hlabisa, wys AfriForum op onder meer die volgende:
- Die wetsontwerp is onregverdig en onvanpas aangesien dit slegs twee vlakke van leierskap vir Khoi-San-gemeenskappe toelaat, terwyl drie vlakke van leierskap vir tradisionele gemeenskappe toegelaat word.
- Khoi-San-gemeenskapslede word uitgesluit van die Kommissie oor Khoi-San-aangeleenthede, al is hulle die beste toegerus om insette te lewer oor die tradisies, kultuur, gebruike en gewoontereg van Khoi-San-gemeenskappe.
- Klousules 16(18) en 16(19) magtig die premier om die grond (dit is die praktiese implikasie van die woorde “wysig die jurisdiksiegebied”) van ’n gemeenskap af te neem ná oorlegpleging met die tradisionele raad of subraad – of die raad daarmee saamstem of nie.
- ’n Premier word gemagtig om die funksies van ’n tradisionele raad vir ’n onbepaalde tydperk heeltemal oor te neem sonder enige behoorlike wigte en teenwigte.
- Die wetsontwerp magtig die premier om die finale sê te hê in enige ooreenkoms wat ’n raad sluit. Dit ontneem koninklike leiers en rade van alle werklike gesag.
- Die wetsontwerp magtig nie rade om self die beplanning en implementering te lei van gemeenskapsontwikkelingsinisiatiewe, -programme en -projekte nie. Dit beperk ook rade se vermoë om ’n verskil in hul gemeenskappe te maak.
- Die wetsontwerp, in sy huidige vorm, is in stryd met verskeie artikels van UNDRIP.
“Die bewoording van die wetsontwerp skep die indruk dat dit nie opgestel is met die bewaring en ontwikkeling van kulturele gemeenskappe en hul tradisies, kultuur, tale, gebruike, gewoontereg en erfenis in gedagte nie. Dit blyk dat die doel was om maksimum beheer deur staatsamptenare moontlik te maak en om die inisiatief en gesag van koninklike leiers, koninklike families en rade tot die minimum te beperk,” sê Uys.
Uys voer aan dat “in plaas daarvan dat die wet koninklike leiers, koninklike families en rade bemagtig om verantwoordelikheid vir hul eie toekoms te neem en ontwikkeling aan te voer, beperk dit hul inisiatief en verskuif dit alle inisiatief en bevoegdhede na regeringsamptenare.”
“Vreedsame naasbestaan van alle kultuurgemeenskappe in die land hang af van die vestiging van goeie interkulturele verhoudings en samewerking wat gebaseer is op wedersydse erkenning en respek. Dit is waarom AfriForum daadwerklik bou aan ’n netwerk van kultuurgemeenskappe wat mekaar in sake soos dié kan bystaan om ’n voorspoedige toekoms vir die kinders van alle gemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika te verseker,” sluit Uys af.