|

Waterprobleem in Makhado – AfriForum eis onmiddellike optrede

AfriForum eis dringende optrede in Makhado waar die reservoir tans vol is, maar die inwoners se krane bly droog. Dit is onaanvaarbaar en plaas die gemeenskap se gesondheid en welsyn in gevaar.

Ten spyte van herhaalde pogings deur AfriForum om die Vhembe-distriksmunisipaliteit te nader, insluitend verskeie briewe en ’n versoek om ’n vergadering, het ons tot dusver geen terugvoer ontvang nie. Hierdie gebrek aan kommunikasie en optrede van die munisipaliteit is ’n duidelike aanduiding van wanbestuur en gebrek aan verantwoordbaarheid.

Dit is veral kommerwekkend dat daar gerugte is dat ’n “watermafia” voordeel trek uit die waterprobleme in Makhado. Hierdie situasie is nie net ’n bedreiging vir die gemeenskap se toegang tot skoon water nie, maar ook ’n ernstige skending van hul grondwetlike regte.

AfriForum doen ’n beroep op die Vhembe-distriksmunisipaliteit om onmiddellik op hierdie kwessie te reageer en die nodige stappe te doen om die waterprobleem in Makhado op te los.

Dit sluit in:

  1. ’n Duidelike kommunikasieplan om die gemeenskap in te lig oor die huidige situasie en die stappe wat gedoen gaan word.
  2. ’n Oorsig van die waterinfrastruktuur en die implementering van ’n volhoubare oplossing om die watertoevoer te herstel.
  3. ’n Ondersoek na die beweerde “watermafia” en die implementering van maatreëls om die gemeenskap teen sulke praktyke te beskerm.

AfriForum sal nie huiwer om verdere stappe te doen nie, insluitend regstappe, indien die munisipaliteit nie binne ’n redelike tyd reageer nie. Die gemeenskap van Makhado verdien toegang tot skoon en betroubare water, en ons sal aanhou om hulle te ondersteun in hierdie stryd.

Soortgelyke plasings