Waterlekkasies: AfriForum soek antwoorde oor Tshwane-metro se nalatigheid
AfriForum versoek belangrike inligting van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit oor waterlekkasies in dié metro ná die organisasie talle klagtes van die publiek ontvang het. Die organisasie het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien om hierdie inligting te bekom.
Die organisasie het voorheen berig dat meer as 30% van die Tshwane-metro se waterverlies toegeskryf kan word aan lekkasies wat nooit herstel word nie of lank vat om herstel te word. Desondanks word die eindverbruiker met vlak-1-waterbeperkings gestraf hoewel die verantwoordelikheid op die metro berus om hierdie lekkasies te herstel om watervermorsing te voorkom.
“Om waterbeperkings in te stel eerder as om lekkasies te herstel is soos om ’n pleister op ’n skietwond te plak. Die stad sal aanhou bloei totdat die Tshwane-metro besluit om die kern kwessie aan te roer. Dit blyk egter dat die metro hulself doelbewus dom hou. Die Tshwane-metro weet hulle kan nie hierdie kwessie alleen oplos nie, tog weier hulle om gebruik te maak van die hulp wat vir hulle op ’n skinkbord aangebied word,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.
In sy aansoek versoek AfriForum onder meer die volgende:
- ’n Volledige lys van alle waterlekkasies wat tussen 1 Mei 2024 en 1 Mei 2025 gerapporteer was, asook die verwysingsnommer en ligging van elk.
- Die status van elke lekkasie: opgelos, onopgelos of tans in proses.
- Hoe lank dit die munisipaliteit geneem het om die lekkasies te herstel.
- ’n Afskrif van die amptelike diensvlakooreenkoms wat die munisipaliteit se verpligtinge met betrekking tot reaksie- en resolusietydsraamwerke uiteensit.
AfriForum meen dat die publiek ’n reg het op hierdie inligting en dat die bekendmaking daarvan noodsaaklik is om die metro tot verantwoording te roep asook ’n breër behoefte bepaling te doen oor waar die organisasie kan ingryp.
Roodt sê verder dat AfriForum bereid is om ’n aktiewe rol te vertolk om hierdie kwessie op te los deur hulle talle vrywilligers en aksiespanne in die omgewing te mobiliseer en te bemagtig om die munisipaliteit by te staan met die herstel van lekkasies.
“Ons staan reg om te help. Die metro moet ons net die geleentheid gee, eerder as om in ons pad te staan. Hulle probeer (en misluk) om alles op hulle eie aan te pak, ten koste van die inwoners van die Tshwane-metro. Die realiteit is, hulle het eenvoudig nie die politieke wil of kapasiteit om die stad se verval sonder die privaatsektor en gemeenskappe te stop nie. Dit is tyd dat gemeenskapsinisiatiewe die leemtes vul waar die regering faal,” sê Roodt.
AfriForum moedig inwoners van die Tshwane-metro aan om waterlekkasies aan te meld deur AfriForum se aanlyn platform.
Raak betrokke en vind meer uit by www.wordlid.co.za