|

Waterkwaliteit vanjaar ’n prioriteit vir AfriForum in Knysna

Die AfriForum-tak in Knysna sit vanjaar sy missie voort om oplossings te vind vir die dorp se swak gehalte van drinkwater en om die Knysna-strandmeer se waterkwaliteit op standaard te bring.

AfriForum is in 2024 ingelig van die ernstige rioolstorting in die Knysna-strandmeer en ander omliggende waterliggame, wat grootskaalse gevare inhou vir gemeenskapslede en vakansiegangers wat in die meer swem. Hierdie rioolstorting hou selfs ’n bedreiging in vir die reeds bedreigde Knysna-seeperdjie en die Knysna-blaarvouendepadda.

AfriForum het al in Februarie verlede jaar die Knysna Plaaslike Munisipaliteit in ’n skrywe versoek om dringend in te gryp om verdere besoedeling in die meer te voorkom. Dis ’n jaar later en AfriForum het steeds geen terugvoer ontvang nie.

’n Paar maande later – in Julie 2024 – het AfriForum die Knysna-munisipaliteit weer in ’n skrywe versoek om verskeie rioolmangate op die Knysna Old Place-stortingsterrein vir tuinvullis, wat aanhoudend rou riool in die kloof stort, te herstel. AfriForum het weereens geen samewerking van die munisipaliteit gekry nie. Hierdie rou riool het in ’n rivierstroom beland, wat in verskeie kanale deur die dorp vloei en uiteindelik in die Knysna-strandmeer beland. Aangesien die situasie uiters dringende optrede geverg het, het AfriForum se Knysna-tak self die probleem getakel en verskeie mangate, wat konstante riool gestort het, teen ongeveer R20 000 herstel.

AfriForum se Knysna-tak het in Augustus 2024 watertoetse gedoen by die uitvloei van die rioolverwerkingsaanleg, wat direk na die Knysna-strandmeer vloei. Toetsuitslae het aangedui dat daar E. Coli en fekale koliforme in die water teenwoordig is. Die water is weer in Oktober 2024 getoets en toe was die vlakke van E. Coli in die water aansienlik hoër as die vorige toetsuitslae, wat op voortdurende besoedeling dui.

AfriForum beplan om vandeesmaand weer watermonsters vir toetse te stuur om te bepaal of die besmette vlakke enigsins verbeter het.

“AfriForum sal voortgaan om teen die verval van basiese dienste te veg,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap. “Ons was reeds in gesprek met die Knysna-munisipaliteit en is hoopvol dat ons hierdie jaar goeie samewerking sal ontvang.”

Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602 om by AfriForum se Knysna-tak betrokke te raak of aan te sluit.

Soortgelyke plasings