|

Waterbeperkings hang soos swaard bo Welkom-inwoners se koppe terwyl munisipaliteit swyg oor lekkasies

Die inwoners van die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit staar steeds ernstige waterbeperkings in die gesig weens dié munisipaliteit se voortdurende versuim om sy finansiële verpligtinge teenoor Vaal Central Water (VCW) na te kom én burgerlike organisasies soos AfriForum in staat te stel om broodnodige herstelwerk aan lekkasies te doen.

Die inwoners van die munisipaliteit is onlangs in kennis gestel dat VCW van voorneme is om die watertoevoer na Welkom te beperk weens die munisipaliteit se wanbetaling. Die munisipaliteit skuld die watervoorsiener ongeveer R6 miljard.

In Julie verlede jaar het AfriForum daarin geslaag om soortgelyke beperkings deur VCW te stuit en ’n ooreenkoms is tussen die munisipaliteit en VCW bereik. Die jongste ooreenkoms, wat die munisipaliteit glo noodgedwonge met die watervoorsiener aangegaan het, het dié keer toegesien dat watertoevoer die afgelope naweek reeds aan inwoners herstel is.

“Dit blyk egter asof die munisipaliteit nie die eerste ooreenkoms nagekom het nie. Wat gee inwoners die sekerheid dat die munisipaliteit nie weer sy finansiële verpligtinge teenoor VCW sal verontagsaam nie? Boonop kan die VCW nie vertrou word om nie weer in die toekoms hierdie drastiese stappe te doen en die inwoners met ongrondwetlike waterbeperkings te straf nie,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Hiermee saam swyg die munisipaliteit steeds oor elke poging deur AfriForum om waterlekkasies op die dorp te herstel. Die burgerregteorganisasie het meer as ’n maand gelede ’n skrywe aan die munisipale bestuurder gerig, waarin daar versoek is dat ’n groot waterlek op die dorp herstel word. Nadat die munisipaliteit geen ag op dié brief geslaan het nie, het AfriForum sowat ’n week gelede die munisipale bestuurder versoek om watertoevoer na Tempestweg af te skakel sodat sy Welkom-tak self die groot waterlek kan herstel. Dié versoek het weer op dowe ore geval, ondanks verskeie persoonlike boodskappe aan die munisipale bestuurder en selfs die burgemeester.

“Die gemeenskap gaan reeds maande lank gebuk onder waterbeperkings en -toevoerprobleme as gevolg van talle waterlekke, tog dink die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit dit goed om elke moontlike aanbod om hulp van die hand te wys. Terwyl die munisipale bestuurder elke oproep, boodskap en brief van AfriForum ignoreer, moet inwoners die verdere verval van hul dorp verduur,” voeg Ikking by.

AfriForum doen daarom ’n dringende beroep op die munisipaliteit om verantwoording te neem en volhoubare oplossings saam met gemeenskappe en burgerlike organisasies te vind om dié waterkrisis te bekamp.

Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by AfriForum betrokke te raak.

Soortgelyke plasings