Wat(er) is wat Mpumalanga se inwoners wil hê
AfriForum het op 16 Januarie die Wat(er) wil ons hê-veldtog in Mpumalanga van stapel gestuur nadat dit duidelik geword het dat volhoubare waterverskaffing in die provinsie nie meer moontlik is nie. Munisipaliteite se onvermoë laat inwoners gereeld in die steek en terselfdertyd is daar ook bitter min eerlike antwoorde indien waterverskaffing onderbreek word.
Die doel van die veldtog is om meer inligting van inwoners in Mpumalanga te kry oor enige probleme met waterverskaffing, sodat AfriForum die kwessie onder die Departement van Water en Sanitasie se aandag kan bring. Dit is duidelik dat die munisipaliteite nie die ware stand van sake aan die departement kommunikeer nie. AfriForum is bewus van meer as 17 dorpe in Mpumalanga wat vir meer as 72 uur aaneen watertekorte in 2024 beleef het.
Die onlangse droogte het die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit hard getref en dorpe is gevolglik onder waterbeperkings geplaas, maar dit was alreeds te laat. Wat egter skokkend was, is dat daar met ondersoeke ter plaatse gevind is dat selfs al is daar ernstige droogte, is groot waterlekke nie spoedig hanteer nie. Een van die lekkasies was by Torbanitedam waar die water bo-op die wal uit die pype, wat water na die watersuiweringsaanleg pomp, gelek en weggevloei het. Die Brummer- en Douglasdamme was op dié stadium amper leeg en het Ermelo, Chrissiesmeer en Breyten met waterbeperkings gelaat.
Danksy goeie reën kon die krisis afgeweer word en inwoners het ’n dankbare sug van verligting gegee, maar daar is steeds nie water nie óf dit is vuil en onbruikbaar. In sommige areas is die waterdruk baie laag en verskeie pype bars gereeld. Wateronderbrekings vind ook gereeld plaas en kan tot en met 72 uur lank neem om te herstel.
Inwoners in die Victor Khanye-munisipale gebied het vir maande lae waterdruk ervaar. Die munisipaliteit het die waterkleppe dag en nag oop en toe gedraai. Beurtwater het die norm in dié munisipale gebied geword met baie inwoners wie se krane vir weke aaneen droog was. Die onderbrekings is weereens toegeskryf aan munisipaliteite se swak finansiële bestuur, terwyl Rand Water drukverlaging as straf toegepas het.
“Dit blyk dat inwoners se mees basiese mensereg in Mpumalanga ontneem word, want daar is geen vertroue in waterverskaffing nie,” sê Hennie Bekker, ’n distrikskoördineerder vir AfriForum in Mpumalanga.
Inwoners word aan hulle eie genade oorgelaat en moet water teen belaglike kostes aankoop as krane droogloop. Dit hou nie net ’n gesondheidsrisiko in nie maar is ook ’n reuse-las op verbruikers wat alreeds swaartrek se sakke. Hospitale, klinieke en tehuise is hard getref en moes dringend planne maak om water te kry.
“In heelwat dorpe het boere en ondernemings inisiatief geneem om tot die inwoners se redding te kom deur watertenkwaens teen geen koste aan inwoners beskikbaar te stel. Hierdie wonderlike gebaar is egter nie volhoubaar nie,” sluit Bekker af.
Klik hier om AfriForum in te lig van wateronderbrekings in Mpumalanga.