Vullisverwyderingskrisis bereik breekpunt in Mookgophong, AfriForum bied hulp aan munisipaliteit
AfriForum se Naboomspruit-tak het vandeesweek, te midde van die voortslepende vullisverwyderingsprobleme in Mookgophong, na die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit uitgereik en aangebied om ’n samewerkingsooreenkoms met die munisipaliteit aan te gaan sodat AfriForum die vulliskrisis wat nou in die dorp dreig, die hoof kan bied. Die burgerregteorganisasie is onder meer bekommerd oor die ernstige gesondheidsrisiko’s wat die vullisverwyderingsprobleme vir die inwoners kan inhou.
Die burgerregteorganisasie se aanbod om hulp aan die munisipaliteit volg nadat daar reeds in Februarie met die premier van Limpopo, dr. Phophi Ramathuba, oor die vullisterreineprobleme in dié munisipaliteit kontak gemaak is.
AfriForum se Naboomspruit-tak het in September verlede jaar ingegryp om vullisverwydering in ’n deel van die dorp te doen nadat munisipale vullisverwydering dae lank opgeskort is en vullis opgehoop het.
“Die situasie is nou onhoudbaar,” benadruk Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo. “Vullis hoop op in woongebiede en hou ’n groot gesondheidsrisiko in. AfriForum het nie net die nodige ervaring met die verskaffing van vullisverwyderingsdienste nie, ons is ook daartoe verbind om ’n verskil in ons gemeenskap te maak en is bereid om die munisipaliteit by te staan.”
AfriForum het in 2023 ’n volwaardige vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein van stapel gestuur nadat dit duidelik geword het dat die Mangaung-metro se dienslewering ten opsigte van vullisverwydering totaal gebrekkig en onbetroubaar geword het. Die organisasie het ook vroeër vanjaar ’n vullisverwyderingsvragmotor aangeskaf om in die vraag na dié diens te voorsien en het in Maart en April meer as 53 ton vullis in dié metro verwyder. Die organisasie hoop om dieselfde model ook in die belang van inwoners in die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit te implementeer.
“AfriForum se kapasiteit en kundigheid in dié verband sal kan help toesien dat inwoners van Mookgophong weer op ’n betroubare vullisverwyderingsdiens sal kan staat maak,” sluit Kotze af.
Die publiek word uitgenooi om deel te word van die AfriForum-oplossing. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.