Vulliskrisis dreig in Noord-Kaap, toon AfriForum-verslag: Slegs 8% van vullisterreine voldoen aan mees basiese vereistes
Slegs ’n skamele 8% van Noord-Kaapse vullisterreine wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit geoudit is, voldoen aan die mees basiese vereistes van vullisterreinbestuur. Die res van die Noord-Kaap se ouditresultate lyk boonop soos ’n skoolrapport van ’n kind wat nie eens moeite gedoen het om op te daag vir skool nie. Dié powere prestasie het vanjaar aan die Noord-Kaap die onbenydenswaardige titel van swakste provinsie in die land ten opsigte van vullisterreine besorg.
Die Noord-Kaap kon in geheel net ’n gemiddelde nakomingspunt van 13% behaal en het net-net beter gevaar as die Vrystaat met ’n gemiddelde nakomingspunt van 18%. ’n Totaal van 72% van terreine (oftewel 18 terreine) in dié provinsie kon nie eens ’n 10%-nakomingspunt kry nie. Hiervan het die volgende tien terreine ’n 0%-nakomingspunt behaal:
- Britstown-terrein, Emthanjeni Plaaslike Munisipaliteit
- Douglas-terrein, Siyancuma Plaaslike Munisipaliteit
- Hanover-terrein, Emthanjeni Plaaslike Munisipaliteit
- Hartswater-terrein, Phokwane Plaaslike Munisipaliteit
- Kakamas-terrein, Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit
- Kammieskroon, Kammiesberg Plaaslike Munisipaliteit
- Keimoes-terrein, Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit
- Lennertsville-terrein, Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit
- Springbok-terrein, Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit
- Williston-terrein, Karoo Hoogland Plaaslike Munisipaliteit
Die Noord-Kaap het vanjaar op sy jare lange swak prestasie voortgebou en steek steeds vas op die 13% nakomingspunt ook in 2024 behaal is. Die provinsie se vullisterreine is egter op ’n duidelike afwaartse pad nadat die nakomingspunt van 24% wat in 2021 behaal is, sedertdien reeds met 11 persentasiepunte gedaal het.
Die oudit se resultate toon ernstige sistemiese verval ten opsigte van vullisterreine in die provinsie en bevestig weereens dat vullisterreine in dié provinsie ernstige risiko’s inhou en waarskynlik skuldig is aan lug-, water- en grondbesoedeling, waarsku die burgerregteorganisasie.
AfriForum het vanjaar 169 van die land se 544 vullisterreine, oftewel nagenoeg ’n derde van die land se terreine, geoudit. Uit die 169 terreine kon slegs een uit elke vyf terreine die oudit slaag.
“Met slegs een uit elke vyf vullisterreine wat voldoende basiese maatreëls het om die gemeenskap en omgewing teen besoedeling te beskerm, bevestig die uitslae van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit weereens dat die meerderheid munisipaliteite landwyd nie in staat óf bereid is om basiese funksies van dienslewering te verrig nie,” verduidelik Marais de Vaal, samesteller van die vullisterreinouditverslag en raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.
Wener Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, benadruk dat die wanbestuur van vullisterreine in die Noord-Kaap dié waterskaars provinsie ernstige skade kan berokken. “Benewens lug- en grondbesoedeling veroorsaak swak vullisbestuur ook die besoedeling van grondwater – die provinsie se kritieke lewensaar,” verduidelik hy.
Volgens Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, is die oprigting van ’n nuwe vullisterrein in die Gamagara Plaaslike Munisipaliteit, waarby AfriForum as belanghebbende organisasie betrokke is, ’n noodsaaklike verwikkeling vir die provinsie met sy powere prestasierekord van vullisterreinbestuur. Smit verduidelik: “Dit is duidelik dat plaaslike munisipaliteite nie naastenby genoeg doen om vullisterreine ordentlik te bestuur nie – en sommige van die terreine in die Noord-Kaap is ’n tydbom wat op ’n ernstige omgewingsramp afstuur indien daar nie dadelik ingegryp word nie,” verduidelik hy.
AfriForum sal nou die ouditbevindings aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing voorlê en eis dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul mislukte pogings om vullisterreine te bestuur. Die burgerregteorganisasie sal ook voortgaan om gemeenskapsgebaseerde oplossings te bevorder, soos sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en landswye herwinningsprojekte. “Dit is slegs deur hierdie pogings wat gemeenskappe voorspoedig sal wees ongeag die toestande waarin munisipaliteite hulself bevind,” sluit De Vaal af.