Vervalle Bethlehem-paaie gaan erg gebuk onder swak dienslewering
Die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit se gebrek aan dienslewering is besig om Bethlehem duur te staan te kom. Dié dorp, wat bekend is vir sy rustigheid en ’n ruspunt is vir reisigers onderweg na vakansiebestemmings, is besig om te verval. Die afwesigheid van padtekens en straatnaamborde, asook die gebrek aan instandhouding, veroorsaak ernstige bekommernisse onder inwoners en padgebruikers. Die gebrek aan duidelike verkeerstekens het al tot talle ongelukke in Bethlehem gelei.
Ná AfriForum al verskeie briewe en versoeke aan die Dihlabeng-munisipaliteit gerig het oor die ontbrekende padtekens en straatnaamborde, is daar steeds geen terugvoer ontvang nie. Die munisipaliteit het ook nie aksie geneem om die kwessie op te los nie. AfriForum se laaste brief aan die Dihlabeng-munisipaliteit aangaande hierdie kwessie, is Maandag 10 Maart gestuur.
In die Panoramawoongebied is stoptekens al in 2023 verwyder en nooit weer opgerig nie. Net soos enige ander padteken, het hierdie stoptekens ’n belangrike rol gespeel in die verkeersveiligheid van inwoners en voetgangers, veral by die kleuterskool en kerk in dié omgewing. Die nalatigheid van die munisipaliteit om nie die padtekens te vervang nie, stel die gemeenskap daagliks aan ongeluksrisiko’s bloot.
Boonop is talle strate in Bethlehem sonder enige straatnaamborde of is die bestaande borde gevandaliseer en nooit herstel nie. Die gebrek aan duidelike straatnaamborde skep verwarring vir inwoners en besoekers, wat sukkel om hul bestemmings te vind. Toeriste, wat ’n belangrike bydrae tot die plaaslike ekonomie lewer, word benadeel deur die swak toestand van padtekens en infrastruktuur.
Behalwe vir die gevaar wat geskep word deur die onduidelike of ontbrekende straatnaamborde en padaanwysings, moet padgebruikers boonop ook slaggate vermy, wat nog ’n addisionele gevaar inhou. Dit skep ’n omgewing waar bestuurders konstant op hul hoede moet wees om verdere ongelukke te voorkom.
“Inwoners is moedeloos en gefrustreerd oor die gebrek aan reaksie van die munisipaliteit en plaaslike verkeersafdeling. Dit is duidelik dat daar ’n algehele versuim is om basiese munisipale dienste te lewer,” sê ’n bekommerde inwoner. “Dit kan nie die standaard wees waarmee ons tevrede moet wees nie. Ons as gemeenskap moet opstaan en ’n verskil maak,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.
Die inwoners van Bethlehem doen ’n dringende beroep op die Dihlabeng-munisipaliteit om hul verantwoordelikhede na te kom en die nodige herstellings en instandhouding van padtekens en infrastruktuur te prioritiseer. Bethlehem kan nie bekostig om sy reputasie en die veiligheid van sy inwoners in gevaar te stel weens nalatigheid nie.
AfriForum kan deur groter samewerking die Dihlabeng-munisipaliteit ondersteun met basiese dienslewering en instandhouding om Bethlehem tot sy volle glorie te herstel.
Klik hier om ’n lid van AfriForum se Bethlehem-tak te word en help om dié dorp self reg te ruk.
