Vanderbijlpark-tak help dienslewering aan
AfriForum se Vanderbijlpark-tak het die afgelope tyd daadwerklik ’n verskil in dié gemeenskap gemaak. As deel van AfriForum se Herstel en Versnel-inisiatief, wat daarop gemik is om dienste te lewer wanneer plaaslike owerhede tekortskiet, het die tak verskeie projekte in verskillende dele van Vanderbijlpark aangepak om gemeenskappe skoner, veiliger en funksioneel te help hou.
Die tak het onder meer gras oor ’n oppervlakte van 0,7 hektaar in Jean Websterstraat gesny en vier sakke vullis daar opgetel. ’n Oppervlakte van 0,2 hektaar in Herbertstraat is skoongemaak en dié gras is ook gesny.’n Omvattende opruimingsaksie is in Phoenix Parkuitgevoer, waar 30 gemeenskapslede bykans vier hektaar platgeloop het. Op die ou end is ’n hele paar ton rommel opgetel en weggery.
Die tak het ook in Flora Gardens, in samewerking met 25 gemeenskapslede, vier ton (160 sakke) teer gebruik om 30 slaggate suksesvol op te vul. ’n Verdere 550 kg (22 sakke) teer is gebruik om vier slaggate in Hawkshawstraat op te vul. Dié herstelwerk maak ’n groot bydra tot padveiligheid in die gebied.
“Dié gemeenskap verdien goed onderhoude padinfrastruktuur, skoon parke en veilige woonbuurte. Waar die munisipaliteit faal sal AfriForum, as deel van hierdie gemeenskap, self die voortou neem. Hierdie AfriForum-inisiatief wys wat moontlik is wanneer gemeenskapslede hande vat en met trots hulle omgewing oppas,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaal Driehoek.
Klik hier om vandag nog by AfriForum se strukture betrokke te raak.