|

Uitenhage-hospitaal se landingstrook weer op standaard ná AfriForum ingryp

Vrywilligers van AfriForum se Uitenhage-tak en lede van sy Mosel-buurtwag in Kariega het die afgelope naweek ingespring om die nodige opknappings aan die Uitenhage-provinsiale hospitaal se helikopter-landingstrook te doen. Terselfdertyd is daar ook ’n nuwe windkous aangebring, nadat die vorige een deur die jare heeltemal verweer en uiteindelik afgeval het.

Luidens Melissa de Jongh, projekleier van AfriForum se Uitenhage-tak, het hulle klagtes van die publiek en hospitaalpersoneel ontvang oor die toestand van die landingstrook en van die afwesige windkous. Met hul aankoms by die hospitaal om die opknappings aan te pak, was die landingstrook en die windkous in ’n gehawende toestand. As gevolg van jare se gebrek aan instandhouding, was die landingsmerke verbleik en heeltemal onsigbaar. Gras het ook van alle kante oor die landingstrook gegroei wat gevolglik die oppervlak van die landingstrook verklein het. Onkruid het ook krake in die teer begin vorm, wat tot die verbrokkeling van die oppervlak gelei het.

Die AfriForum-span het alle grasse en onkruid wat oor die landingstrook groei, verwyder waarna onkruiddoder gespuit is om te verhoed dat dit teruggroei. Hierna is ’n 10 meter strook gras om die landingstrook gesny om aan lugvaartvereistes te voldoen. Daarna is die landingstrook se oppervlak goed voorberei vir al die nodige landingsmerke wat oorgeverf moes word.

Volgens Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis, moet hospitale se landingsfasiliteite aan burgerlugvaartregulasies voldoen. Indien ’n landingstrook nie aan die minimum veiligheidstandaarde voldoen nie, kan lugreddingsdienste weier om te land, wat gevolglik lewens kan kos. Dit gaan nie net oor reëls nie, maar oor die lugambulans se veiligheid, die goue uur en die pasiënt se lewe.

Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos Kaap, sê dat AfriForum-lede en Kariega-inwoners se gesondheid belangrik is vir die organisasie. “AfriForum se spreekwoord is ‘ons sal self’ daarom het ons ingespring en die werk self gedoen eerder as om te wag vir die regering se burokrasie.”

AfriForum se Uitenhage-tak en Mosel-buurtwag sal voortaan die Uitenhage-provinsiale hospitaal se landingstrook onderhou. Van der Vyver loof die AfriForum-vrywilligers vir hul onbaatsugtige diens aan hul gemeenskap en liefde vir hul medemens.

“Die plaaslike nooddienste se dankbaarheid en die wete dat ons ’n positiewe bydrae tot ons gemeenskap maak, bly die hartklop van AfriForum,” sluit Van der Vyver af.

AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste tak aan te sluit. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings