|

Tshwane-metro se voorgestelde heffing strydig met wetgewing – AfriForum

Klankgreep: Arno Roodt (Afrikaans)

Klankgreep: Arno Roodt (Engels)

Die Tshwane-metro se voorgestelde omgewings- of stadsreinigingsheffing sal, indien dit geïmplementeer word, strydig wees met wetgewing, neerkom op dubbele belasting en die stad se reeds oorbelaste inwoners onbillik teiken. Dit is enkele van AfriForum se kernargumente téén die implementering van dié heffing wat nou in die metro in die vooruitsig gestel word.

AfriForum het sy volledige teenkanting sowel as alternatiewe voorstelle vir die verhoging van die metro se inkomste in skriftelike kommentaar uiteengesit wat vandag by die metro ingedien is as deel van die openbaredeelnameproses. Die organisasie dring daarop aan dat die implementering van die voorgestelde heffing gestaak moet word en dat die fokus eerder geplaas moet word op interne hervormings en verantwoordelike hulpbronbestuur.

Die metro het onlangs sy planne vir die implementering van ’n bykomende maandelikse heffing van R194,37 bekend gemaak. Daar word beoog om hierdie vaste maandelikse heffing in te stel op alle leë erwe groter as 150 000 m2 en residensiële en sake-eiendomme met ’n waarde van meer as R250 000 wat nie van die metro se vullisverwyderingsdiens gebruik maak nie.

AfriForum stel in sy skriftelike kommentaar dit duidelik dat die voorgestelde heffing strydig is met artikel 74(2) van die Wet op Munisipale Stelsels en derhalwe nie wettig geïmplementeer kan word nie. Dié betrokke artikel vereis onder meer dat die bedrag betaalbaar vir munisipale dienste ooreenkomstig die gebruik van die diens moet wees. “’n Heffing op eiendomme, ongeag die gebruik van ’n sekere diens, soos hier beplan, is dus strydig met hierdie afdeling van die wet. Hierdie heffing is ’n duidelike poging van die metro om sy inkomste, ten koste van oorbelaste inwoners, op te stoot,” verduidelik Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Volgens Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid, is daar verskeie alternatiewe maniere waarop die metro sy inkomste kan verhoog sonder om inwoners verder te belas. In sy kommentaar aan die metro stel AfriForum onder meer die volgende alternatiewe bronne van inkomste voor: 

  • Verbeter die doeltreffendheid van die invordering van eiendomsbelasting ooreenkomstig die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur 56 van 2003.
  • Prioritiseer die herstel van weegbrûe by munisipale vullisterreine om akkurate vragmeting te verseker en sodoende inkomste te verbeter.
  • Roei alle vorme van wanbestuur uit by vullisterreine, soos Bronkhorstspruit en Soshanguve.
  • Maak erns met die afdwing van munisipale verordeninge wat onwettige storting van vullis verbied.
  • Herstruktureer van die ondoeltreffende vullisverwyderingsmodel wat tans in die metro toegepas word.

Benewens dié voorstelle, doen AfriForum in sy voorlegging ook ’n ernstige beroep op die metro om deursigtigheid ten opsigte van die metro se begroting te bevorder en bestaande hulpbronne beter te bestuur alvorens enige nuwe heffings oorweeg word.

AfriForum het vroeër vandeesmaand reeds ’n skrywe aan die metro gerig waarin die voorgestelde heffing gekritiseer en bevraagteken word. Die metro het egter nie hierop gereageer nie. Roodt beskou dié kilheid as “uiters kommerwekkend”. “Hul absolute stilte wek ernstige vrae oor of inwoners se insette en besware rakende hierdie onbillike voorgestelde heffing ernstig opgeneem word,” voeg Roodt by. “AfriForum is egter daartoe verbind die metro tot verantwoording te roep en inwoners teen uitbuitende finansiële praktyke te beskerm.”

Soortgelyke plasings