water, kraan
|

Tshwane-metro se infrastruktuur in duie – GOP moet daadwerklike oplossings reflekteer

AfriForum het omvattende insette ingedien op die Tswhane Metropolitaanse Munisipaliteit se konsep Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) vir 2025/2026 waarin die burgerregteorganisasie kommer uitspreek oor die toestand van munisipale infrastruktuur, onvoldoende dienslewering en onbillike tariefverhogings. Die organisasie het terselfdertyd praktiese oplossings voorgestel en opnuut sy bereidwilligheid uitgespreek om saam met die metro te werk om oplossings vir hierdie probleme te vind.

“Ons lede leef daagliks met gebarste pype, donker strate, vuil parke en onwettige stortingsterreine – terwyl hulle al hoe meer moet opdok vir dienste wat dikwels nie gelewer word nie,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord. “Die GOP moet nie net ’n administratiewe dokument wees nie, maar ’n daadwerklike reaksie op die inwoners se werklikhede.”

AfriForum versoek ondermeer in sy insette dat daar aandag gegee word aan die volgende areas:

Verval van waterinfrastruktuur: Gebarste pype en lae druk

Die toestand van die Tshwane-metro se waternetwerk is vir AfriForum van besonderse belang. Verskeie areas waaronder Waterkloof en Pretoria-Noord is gereeld vir dae lank sonder water as gevolg van gebarste pype en onvoldoende instandhouding.  

AfriForum versoek dat ’n omvattende oudit van die stad se waterinfrastruktuur gedoen word, gevolg deur ’n gefaseerde opgraderingsplan per streek. Die metro se huidige benadering om die waternetwerk pyp vir pyp te herstel soos dit bars of lek is duur en ondoeltreffend.

Substasie-sekuriteit: Slim tegnologie eerder as duur wagte

Hoewel die metro R305 miljoen vir sekuriteitswagte by substasies begroot, glo AfriForum daar is meer kostedoeltreffende oplossings. Die organisasie het self met groot sukses kameras by Garsfontein se substasie geïnstalleer wat vandalisme en kabeldiefstal aansienlik verminder het.

“Ons buurtwagstrukture is reeds aktief in baie van die geteikende areas. Hulle kan substasies maklik insluit in hul patrollies teen geen ekstra koste vir die metro nie,” verduidelik Hemmens.

AfriForum doen ’n beroep op die metro om eerder te belê in tegnologie soos kameras, alarms en afstandmonitering om te verseker dat die probleem doeltreffend aangeroer kan word. Die organisasie bied ook sy veiligheidsnetwerk en kundigheid aan om hiermee te help.

Stadsreinigingstarief: Onregverdige ekstra las op belastingbetalers

AfriForum het ook kapsie gemaak teen die voorgenome stadsreinigingstarief (city cleansing levy) op sekere eiendomme. Die organisasie beskryf dit as ’n vorm van dubbele belasting wat eiendomseienaars onbillik straf, veral wanneer hulle reeds van private vullisverwyderingsdienste gebruik maak.

Volgens AfriForum getuig hierdie heffing van ’n begrotingstekort aan die metro se kant eerder as ’n poging om dienslewering te verbeter. Die Tshwane-metro moet eerder daarop fokus om skuld in te vorder, verliese te vermy en basiese dienslewering te verbeter.

Algemene infrastruktuurkrisisse

AfriForum se GOP-insette sit die probleme breedvoerig uiteen en sluit oplossings in vir verskeie streke in die Tshwane-metro:

  • Paaie: Strate soos Van der Hoff-weg, Dorp- en Naudestraat wat tans meer slaggat as pad is vereis onmiddellike herstelwerk.
  • Riool: Pompe en aanlegte, veral by Rooiwal, is disfunksioneel en besoedel natuurlike hulpbronne.
  • Parke: Verskeie parke is oorgroei, met vullis besaai, onveilig aangesien dit wegkruipplek bied vir booswigte en word oor die algemeen nie onderhou nie.
  • Onwettige storting: Straathoeke, spruite en selfs begraafplase word misbruik as vullisterreine wat ernstige gevolge vir die omgewing en die gemeenskap se gesondheid inhou.
  • Straatligte: Talle straatligte is buite werking wat ’n ernstige veiligheidsrisiko vir inwoners inhou.

Die organisasie het ook klem gelê op probleme soos verwaarloosde begraafplase, afwesige padtekens, gevaarlike voetpaadjies, en die verval van die Hennopsrivier.

AfriForum meen dat hy nie net kritiek wil lewer nie, maar aktief betrokke is en wil wees by oplossings ter wille van die gemeenskappe wat deel vorm van die Tshwane-metro. Die organisasie het reeds verskeie suksesvolle gemeenskapsinisiatiewe van stapel gestuur waaronder projekte om slaggate te herstel en parke op te knap.  

“Ons is bereid om hande te vat met die metro, maar dit begin met politieke wil en eerlike erkenning van die werklike probleme,” sê Hemmens. “Ons doen ’n beroep op die munisipaliteit om nie die GOP as ’n aftiklysie te gebruik nie, maar as ’n geleentheid om weer op te bou.”

Om deel te raak van die AfriForum-takke in Pretoria gebruik gerus hierdie skakel om aan te sluit of ’n donasie te maak.

Soortgelyke plasings