Water
| | |

Tshwane-metro mors water, níé inwoners

Metro moet herstel van waterlekkasies prioritiseer, eis AfriForum

AfriForum doen ’n dringende beroep op die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit om die herstel van waterlekkasies as ’n kritieke prioriteit te beskou. Miljoene liters water word vermors weens lekkasies wat dae en selfs weke lank onaangeraak bly voordat dit uiteindelik herstel word, terwyl inwoners aan waterbeperkings onderworpe is. Hierdie beperkings raak gewone inwoners: huishoudings sukkel om basiese higiëne te handhaaf en klein ondernemings ly finansieel.

Dit is kommerwekkend dat die Tshwane-metro na raming meer as 30% van sy water deur lekkasies verloor, meen AfriForum. Dit plaas aansienlike druk op die voorsiening van Rand Water en lei uiteindelik tot beperkings wat op die publiek ingestel word. Uiteindelik betaal gewone inwoners die prys vir swak instandhouding en administratiewe nalatigheid.

“Dit is onaanvaarbaar dat gemeenskappe met waterbeperkings gestraf moet word as gevolg van die metro se onvermoë om basiese infrastruktuur te onderhou en lekkasies betyds te herstel,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

In ’n brief wat AfriForum gister aan die Tshwane-metro gestuur het, doen die organisasie ’n beroep op die metro om die wetlik 48-uur-verseiste vir die herstel van waterlekkasies streng te handhaaf. Hierdie regulasie bestaan juis om infrastruktuur te beskerm en waterverliese te beperk, maar word stelselmatig geïgnoreer.

AfriForum versoek verder dat die metro ’n duidelike plan bekendstel om waterlekkasies drasties te verminder en om gereeld verslag te doen oor enige herstelwerk aan infrastruktuur.

Die organisasie stel dit ook duidelik dat hy bereid is om self basiese waterlekkasies te herstel waar die metro nie betyds kan optree nie — mits formele goedkeuring en samewerking toegestaan word. Gemeenskappe beskik oor die kapasiteit, mannekrag en toerusting om eenvoudige herstelwerk vinnig en doeltreffend uit te voer.

Die Tshwane-metro het sewe werksdae om op AfriForum se versoek te reageer.

“Die metro kan krisisse – soos die reuse-waterverliese weens lekkasies – voorkom deur infrastruktuur in stand te hou. Basiese dienslewering is nie ’n luukse nie – dit is ’n verantwoordelikheid teenoor inwoners,” sluit Hemmens af.

Klik hier om deel te raak van AfriForum se Pretoria-takke.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf