|

Tshwane-metro moet uitspraak oor stadsreinigingsheffing nakom – AfriForum

Klankgreep: Arno Roodt (Afrikaans)
Klankgreep: Arno Roodt (Engels)

AfriForum spreek sy afkeur uit oor die feit dat die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit steeds die stadsreinigingsheffing op inwoners van dié metro se rekeninge insluit. Dít ten spyte van twee agtereenvolgende nederlae in die Pretoriase Hooggeregshof.

Die Pretoriase Hooggeregshof het hierdie heffing op 31 Julie vanjaar onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik verklaar en die metro beveel om die heffing van alle rekeninge te verwyder en inwoners in die volgende siklus hiervoor te krediteer. Die Tshwane-metro se aansoek om verlof tot appèl is op 25 Augustus vanjaar met koste van die hand gewys, met die hof wat meen dat daar geen redelike vooruitsigte op sukses om die uitspraak in hierdie saak te betwis nie.

Ten spyte van die hofuitsprake het die metro steeds op sy nuutste rekeninge, wat op 1 September uitgereik is, voortgegaan om dié heffing te eis. Verder het die metro ook die bedrae wat hulle ingevolge die Julie-hofbevel gekrediteer het, weer op inwoners gehef wat dus die kreditering daarvan ongedaan maak. 

Volgens AfriForum verontagsaam die metro ’n bindende hofbevel. Die organisasie het ook sy kommer te kenne gegee oor die metro se Hoof Finansiële Beampte, Gareth Mnisi, se uitlatings dat die heffing bly aangesien die metro tot die Hoogste Hof van Appèl geappelleer het. Geen hofstukke is egter met betrekking tot ’n appèl aan AfriForum se regspan beteken nie, dus bly die oorspronklike hofbevele ten volle afdwingbaar.  

AfriForum het vandag (5 September) in ’n skrywe aan Johann Mettler (stadsbestuurder) en die uitvoerende burgemeester, dr. Nasiphi Moya, die metro se optrede veroordeel en geëis dat die metro onmiddellik ophou om hierdie heffing op rekeninge in te sluit, inwoners te krediteer en skriftelik bevestig dat hulle die hofbevele sal nakom. Die organisasie gee hulle tot 12 September 2025 tyd om aan die eise te voldoen.

“AfriForum se standpunt is duidelik,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid. “Die howe het reeds oor hierdie saak uitspraak gelewer. Die metro het ’n wetlike plig om daaraan te voldoen. Indien die Tshwane-metro versuim om teen die sperdatum op te tree, sal AfriForum na die hof terugkeer om voldoening af te dwing, insluitend om ’n saak van minagting van hofverrigtinge aanhangig te maak en persoonlike kostebevele teen amptenare aan te vra.”  

AfriForum beklemtoon dat hierdie situasie bevestig waarom dit belangrik is vir inwoners om nie hoop te verloor in ’n Dawid en Goliat-stryd teen die regering nie. Dit moet juis as motivering dien om aan te sluit by georganiseerde gemeenskapsorganisasies soos AfriForum wat die stryd namens hulle kan stry.

Inwoners wat hierdeur geraak word kan ’n e-pos aan help@afriforum.co.za stuur om hulp te ontvang met die indien van ’n dispuut by die Tshwane-metro en te verseker dat hul geld terugbetaal word.

Besoek www.wordlid.co.za om ’n lid te word en sodoende ’n verskil in jou gemeenskap te help maak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik