|

Tshwane-metro beoog onbillike “omgewingsheffing” om metro-inkomste ’n R540 miljoen-hupstoot te gee – AfriForum

’n Nuwe “omgewingsheffing” wat vir implementering in die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit oorweeg word en dié metro na verwagting sowat R540 miljoen se bykomende inkomste kan bied, sal volgens AfriForum, neerkom op ’n onbillike dubbele belasting van belastingbetalers in dié metro. AfriForum het vandag die plan in ’n skrywe aan die metro ten sterkste veroordeel en eis dat die instelling daarvan heroorweeg word.

Dié beoogde maandelikse heffing van R194,37 sal ingestel word op alle leë persele groter as 150 000 m2 en residensiële eiendom en sakepersele met ’n waarde van meer as R250 000 sonder bestaande munisipale vullisverwyderingsdienste. Luidens die metro is daar nagenoeg 194 400 residensiële eiendomme en net meer as 62 000 sakepersele in die metro wat nie tans van die metro se vullisverwyderingsdiens gebruik maak nie. AfriForum hou vol dat die nuwe heffing bloot daarop gemik is om verdere inkomste uit die metro se reeds oorbelaste eienaars te melk wat ook binnekort ekstra vir die stewig aangepaste eiendomsbelasting moet opdok.

Die voorgestelde heffing is na verwagting bedoel om verskeie skoonmaakdienste in die metro te finansier, ’n aspek wat reeds deur eiendomsbelasting gedek moet word. Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake, word eienaars wat weens swak munisipale dienslewering die metro se vullisverwyderingsdiens gestaak het en nou van privaatvullisverwyderingsdienste gebruik maak, deur hierdie beplande heffing geteiken. 

“Alhoewel die metro by magte is om belasting en tariewe te hef om ’n inkomste te verseker, is daar spesifieke maatreëls wat eienaars beskerm,” verduidelik Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum. Sy beklemtoon dat artikel 74(2) van die Wet op Munisipale Stelsels wat die beginsels vir tariefbeleide vasstel, in dié verband van belang is. “Dié artikel bepaal dat tariewe die koste moet weerspieël wat redelikerwys met die lewering van die diens verband hou. Voorts bepaal dit dat die heffing wat individuele verbruikers moet betaal, ooreenkomstig met hul gebruik van daardie diens moet wees. Dit is egter duidelik dat die voorgestelde heffing, wat in dokumentasie van die metro as ’n ‘omgewingsheffing’ of ’n ‘stadskoonmaakheffing’ (city cleansing levy) aangedui word, hierdie beginsels van die wet weerspreek, aangesien dit ’n vaste heffing per eiendom in die vooruitsig stel en nie ’n gebruiksgebaseerde fooi soos wat die wet vereis nie,” verduidelik Steffens.

Steffens voer aan dat die beoogde heffing tesame met die skokverhogings in eiendomsbelasting geweldige finansiële druk plaas op die stad se belastingbetalers. AfriForum het reeds verskeie klagtes van inwoners ontvang oor die buitensporige verhogings in eiendomswaardasies in die metro. In een geval is die waarde van ’n eiendom, wat tot op hede op R1,2 miljoen waardeer is, nou – op R2,3 miljoen – sowat 100% hoër waardeer, terwyl ’n ander eiendom wat voorheen op ’n waarde van R900 000 gereken is, na dese op R1,6 miljoen gewaardeer is.

“Dit is duidelik dat die metro sy getroue belastingbetalende inwoners in die visier het om hul begroting te laat klop. Die metro moet veel eerder ander werkbare planne ondersoek soos die strenger toepassing van skuldinvordering of ’n verhoogde fokus op die herstel van waterlekkasies plaas om vermorsing en kiloliters se onbetaalde waterverbruik die hoof te bied,” sluit De Klerk af.

Soortgelyke plasings