Tonne musiek én vermaak wag op jou in Maart by AfriForum Teater
AfriForum Teater se Maart-program beloof ’n ryk verskeidenheid vermaak, met iets vir elke smaak – van klassieke simfoniese musiek en Afrikaanse musiekteater tot intieme akoestiese vertonings en geliefde familieteater. Hierdie maand se program sluit in onder meer die Pretoria Symphony Orchestra se Jeugkonsertfees; die gewilde Staan sterk in Afrikaans-konsert; die bekroonde musiekteaterproduksie Belofte van vere; ’n unieke akoestiese vertoning deur Die Piesangskille; en die treffer-musiekblyspel The Jungle Book.
1 Maart (15:00) – Pretoria Symphony Orchestra – Fifth annual Youth Concerto Festival
Die jaarlikse Jeugkonsertfees bied ’n inspirerende blik op die volgende generasie Suid-Afrikaanse musiektalent. Jong soliste tree saam met die orkes op in ’n diverse program wat instrumente soos tjello, klarinet, fluit, Franse horing, klavier, saxofoon, altviool en viool insluit. Een van die hoogtepunte is die terugkeer van 2025-deelnemer Talita Smith, wat die volledige Fantasia for Saxophone deur Heitor Villa-Lobos uitvoer – ’n tegnies uitdagende en besonder ekspressiewe werk.
7 Maart (19:00) – Staan sterk in Afrikaans 2026
Die gewilde Staan sterk in Afrikaans-konsert vier vanjaar sy sesde bestaansjaar. Hierdie samekoms van Afrikaanse kunstenaars bied nie net ’n aand van gehalte-musiek nie, maar ook ’n platform vir onafhanklike musikante om hul stemme te laat hoor. Organiseerder Anton Fitchat beskryf die projek as ’n viering van samewerking en ’n geleentheid om Afrikaanse musiek en kultuur positief te bevorder.
10 tot 15 Maart (19:00 met sommige dae 10:00) – Belofte van vere
Hierdie bekroonde musiekteaterproduksie bring hulde aan digter en kunstenaar Breyten Breytenbach. In die stuk tree sy dogter, Daphnée Breytenbach (vertolk deur Rolanda Marais), in gesprek met haar beroemde pa (Eben Genis). Onder regie van Philip Rademeyer (toneel) en Anna Davel (musikaal) bied die produksie ’n intieme blik op familieverhoudings, kuns, identiteit en die kompleksiteite van taal, aktivisme en roem. Die stuk het reeds by Momentum Aardklop kunstefees groot lof ontvang en word beskou as ’n besonder sensitiewe en poëtiese teaterervaring.
20 Maart (19:30) – Die Piesangskille – Die liedjies se verhale
Hierdie spesiale akoestiese vertoning bied aanhangers ’n seldsame geleentheid om die stories agter Die Piesangskille se musiek te hoor. Met musikante Johan Balt, Johan Viljoen, Zander Botha en Daniël Marais op die verhoog, kombineer die vertoning musiek, vertelling en poësie in ’n nostalgiese reis deur studentejare, liefdesverhale en die ontstaan van hul liedjies.
25 tot 29 Maart en 1 tot 5 April – The Jungle Book
VR Theatrical se energieke musiekblyspelweergawe van Rudyard Kipling se klassieke verhaal keer terug na ’n uitverkoopte 2025-seisoen. Hierdie produksie bied ’n moderne, visueel treffende interpretasie van die geliefde storie van Mowgli, die seun wat tussen wolwe grootword en sy avonture saam met Baloo, Bagheera en die vreesaanjaende Shere Khan. Met oorspronklike musiek en dinamiese choreografie is dit ’n ideale teaterervaring vir die hele gesin (ouderdom 5+). Hierdie vertoning word in Engels opgevoer.



