| | |

Theewaterskloof-tak pak weekliks vullis en indringerplante in Botrivier

AfriForum se Theewaterskloof-tak het in September vanjaar ’n weeklikse inisiatief van stapel gestuur om Botrivier se openbare ruimtes op te knap, vullis en rommel te verwyder en die omgewing skoner en veiliger te maak. Taklede kom elke Woensdagoggend bymekaar om werk te verrig en sodoende ’n positiewe verskil in die gemeenskap te maak.

Een van die grootste uitdagings waarop die tak tans fokus, is die onwettige storting van huishoudelike vullis en bourommel op oop stukke grond en privaat erwe in Botrivier. Die probleem strek egter verder as bloot die besoedeling en verslonste voorkoms van die dorp. Die ophoping van vullis en rommel tesame met digte plantegroei, skep wegkruipplekke wat deur misdadigers benut kan word om verbygangers aan te val en by huise in te breek. Die verwaarloosde areas hou dus ook ’n veiligheidsrisiko vir inwoners in.

Die tak se werksaamhede sluit onder meer die verwydering van vullis en rommel, die uitroei van indringerplante soos Port Jackson en swartwattel, asook die instandhouding van ’n nabygeleë parkie in Mandelastraat in Botrivier. Afhangend van die area wat aangepak word, word daar elke Woensdag gemiddeld ongeveer ’n minimum van 1 000 m² grond skoongemaak en opgeknap, met tye selfs groter areas.

Met behulp van AfriForum se kettingsaag, bossiekapper en boomtrekker kan die werk vinniger, makliker en meer doeltreffend afgehandel word. Gif word ook, waar toepaslik, aangewend om hergroei van indringerplante te beperk en te voorkom dat hierdie plante weer die gebiede oorneem.

Die projek word grootliks deur gemeenskapsbetrokkenheid moontlik gemaak. Plaaslike gemeenskapslede borg onder meer verf en brandstof vir die toerusting, gedryf deur ‘n gedeelde begeerte om Botrivier se voorkoms en leefbaarheid te herstel.

“Die gewilligheid en gees onder die gemeenskap is groot om te help. Elkeen probeer sy deel doen, ten spyte van hul werk en ander verpligtinge. Dit is bemoedigend om te sien hoe mense bereid is om hul tyd en hulpbronne in te span om ’n verskil in hul dorp te maak,” sê Ebrahim Kahn, sekretaris van AfriForum se Theewaterskloof-tak.

AfriForum se Theewaterskloof-tak moedig inwoners aan om betrokke te raak en saam verantwoordelikheid te aanvaar vir die omgewing waarin hulle woon. Deur volgehoue samewerking en praktiese gemeenskapsinisiatiewe kan Botrivier stap vir stap weer ’n skoner, netjieser en veiliger dorp word.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf