Terugtrekking van mynaansoek op Kruger se voorstoep ’n soete oorwinning, maar departement se stilswye kwel steeds
Die terugtrekking van Tenbosch Mining se omstrede aansoek vir die oprigting van ’n steenkoolmyn langs die Krugerwildtuin, is volgens AfriForum ’n oorwinning vir die land se grootste nasionale park, natuurbewaring én die gemeenskap. Die burgerregteorganisasie benadruk egter dat die afwesigheid van ’n formele kennisgewing hieroor van die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie (DMHE) steeds kommer wek aangesien ’n vorige terugtrekking van die einste mynaansoek in 2023 op ’n twyfelagtige wyse weer later voortgesit is.
Kimopax, die omgewingskonsultant wat vir Tenbosch Mining optree, het AfriForum in Desember in kennis gestel dat die betrokke mynregaansoek teruggetrek is, dat dit nie verder oorweeg word nie en dat alle prosesse wat met die aansoek verband hou, by die DMHE beëindig is.
AfriForum se prokureurs het in reaksie hierop die DMHE op 17 Desember 2025 versoek om formeel te bevestig of die aansoek inderdaad teruggetrek is. Die departement het egter nog nie op dié versoek gereageer nie. In sy brief aan die departement het AfriForum onder meer daarop gewys dat, indien die aansoek wel teruggetrek is, enige soortgelyke toekomstige aansoeke, ingevolge relevante wetgewing, van nuuts af (oftewel de novo) aangepak sal moet word.
’n Tweede brief is vroeër vandeesmaand aan die departement gerig waarin weer skriftelike erkenning en bevestiging van die terugtrekking versoek is. AfriForum se prokureurs het dit verder op rekord geplaas dat indien geen antwoord binne ’n redelike tyd ontvang word nie, die gevolgtrekking gemaak sal word dat die aansoek wel teruggetrek is en dat die departement die terugtrekking aanvaar het.
“AfriForum verwelkom die terugtrekking van hierdie mynaansoek. Dit bewys dat volgehoue openbare druk en noukeurige ondersoek na die wettigheid van aansoeke soos dié vrugte afwerp. Daarenteen is die departement se versuim om die onttrekking van die aansoek skriftelik te bevestig, nie net tekenend van swak administrasie nie maar dit ondermyn ook deursigtigheid, openbare vertroue en die integriteit van omgewingsbestuur. Gemeenskappe verdien sekerheid, nie stilswye nie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.
Dit is volgens AfriForum van kritieke belang dat die departement die terugtrekking van die aansoek formeel bevestig, veral aangesien die aansoek reeds in 2023 teruggetrek en toe weer op ’n twyfelagtige wyse voortgesit is. Dít ten spyte daarvan dat wetgewing bepaal dat ’n aansoek in so ’n geval van nuuts af gebring moet word. Ondanks dié duidelike voorskrifte is die aansoek destyds voortgesit en is slegs enkele belanghebbende en geaffekteerde partye van die voortgesette aansoek in kennis gestel.
AfriForum moniteer intussen die saak en staan gereed om beslissend op te tree indien enige verwante aansoek weer ingedien word.



