Swanger huishulp se noodlot inspireer entrepreneur om verskil te maak
Mario Labuschagne, een van die top-vyf finaliste in AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie vir 2026, se onderneming, MyHelper, is gebore uit ’n droom.
Sy jare lange ondervinding en sy droom om sy kennis met ander te deel was die saadjie wat geplant is. Sy behoefte om huishoudings wat ’n huishulp in diens het te help om uit sy foute te leer en die administratiewe kopsere namens dié werkgewers te takel, het dié saadjie laat ontkiem en gelei tot die totstandkoming van MyHelper.
Labuschagne verduidelik dat sy skoonmaakdiensteonderneming hom ’n paar waardevolle lesse geleer het. “Die inspirasie het eintlik uit twee plekke gekom. Sedert ek Pro Cleaning Solutions in 2019 in Potchefstroom begin het, het ek gesien hoe streng arbeidsnakoming in die praktyk werk. Toe ek ’n swanger huishulp ontmoet het wat ná jare se diens geen kraamvoordele kon eis nie omdat sy nooit by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) geregistreer was nie, het ek geweet dat hierdie gaping nie net ’n besigheidsgeleentheid is nie, maar ook ’n verantwoordelikheid.”
Huishoudings wat ’n huishulp in diens neem is aan dieselfde wetgewing onderhewig as groter ondernemings. Labuschagne sê daar is baie huishoudings wat eerder ’n fooi sal betaal as om self die administrasie van ’n huishulp te behartig. En dit is juis waar MyHelper inkom.
“Hierdie werkgewers is nie noodwendig bang vir die koste nie, maar vir die vorms, die onsekerheid en die moontlikheid dat hulle iets verkeerd kan doen. Dit het my laat besef dat die werklike probleem nie onwilligheid is nie, maar kompleksiteit, en dat ’n eenvoudige selfdiensplatform wat die wetgewing in die agtergrond hanteer, die antwoord kon wees,” sê Labuschagne.
MyHelper is as ’n platform ontwikkel waar ’n kliënt op een plek alles kan doen om die administrasie van hul werkers te hanteer. Dit is spesifiek gebou vir huishoudings wat ’n huishulp in diens het. Die platform help met registrasies by die WVF, die Vergoedingsfonds, die skep van salarisstrokies, die byhou van verlofrekords en die opstel van dienskontrakte.
Elkeen van die dienste wat deur MyHelper gebied word, is met die hulp van ’n geregistreerde arbeidspraktisyn geskep en verseker daarom dat uitsonderlike kundigheid in die stelsel vasgelê is. ’n Huishouding wat nie aan wetgewing voldoen nie, kan met MyHelper binne ’n paar dae alles doen om voldoening aan arbeidswette te verseker.
Labuschagne sê hy het foute gemaak en moes uitdagings oorkom om van MyHelper ’n sukses te maak. “Van die grootste foute wat ek gemaak het, was om te dink dat ek alles self kan doen en om te probeer om aan alles gelyktydig aandag te gee eerder as om op een of twee goed op ’n slag te fokus. Dit is ook ’n uitdaging om die onderneming te laat groei, maar steeds die kwaliteit en akkuraatheid van die diens te behou,” sê hy.
Labuschagne meen deursettingsvermoë is belangriker as talent. Voorts sê hy entrepreneurs moet uit hul foute leer en ’n gesonde balans tussen jou onderneming en gesin handhaaf.
Besoek www.myhelper.co.za om meer oor Labuschagne en sy onderneming uit te vind.



