|

Swak krag-, water- en sanitasiedienste in Emthanjeni vereis dringende optrede – AfriForum

Gereelde kragonderbrekings, onbetroubare watervoorsiening en ’n verwaarloosde rioolaanleg op De Aar is enkele van die kwessie wat volgens die burgerregteorganisasie AfriForum dringende optrede in die Emthanjeni Plaaslike Munisipaliteit vereis. AfriForum het vandeesweek sy skriftelike kommentaar op die konsep- geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir die 2025/2026-finansiële jaar by Emthanjeni, wat Hanover, De Aar en Britstown insluit, ingedien.

In die kommentaar wat aan Disang Molaole, Emthanjeni se munisipale bestuurder, ingedien is, doen AfriForum onder meer ’n beroep op inklusiewe en gemeenskapsgerigte beplanning in dié munisipaliteit.

Volgens Lize-Mari Smit, streekskoördineerder vir AfriForum in die Karoo, skiet munisipale dienslewering in De Aar, Britstown en Hanover in verskeie opsigte tekort. “AfriForum het as ’n gemeenskapsorganisasie die plig om namens ons lede en die breër gemeenskap op te tree waar basiese dienslewering ontbreek. Daarom is AfriForum se deelname aan die GOP-proses ’n belangrike stap om gemeenskapsbetrokkenheid te verseker, soos bepaal in artikel 152 van die Grondwet,” sê Smit. Smit benadruk ook dat die Plaaslike Regering: Munisipale Beplanning- en Prestasiebestuursregulasies, 2001 ook die belang van gemeenskapsdeelname in dié proses beklemtoon.

AfriForum het die volgende kritieke kwessies in sy skriftelike voorlegging aan die munisipaliteit uitgelig:

  1. Elektrisiteitsnetwerk: Gereelde kragonderbrekings in al drie dorpe noodsaak dringende opgradering en instandhouding.
  2. Watervoorsiening: Watervoorsiening in veral De Aar is onbetroubaar en vereis dringende opgradering van die infrastruktuur.
  3. Sanitasie: Die De Aar-rioolaanleg is verwaarloos, hou bepaalde gesondheidsrisiko’s in en moet gemoderniseer word.
  4. Ruimtelike beplanning: Informele nedersettings brei teen ’n spoed uit, maar behoorlike beplanning daarvoor en die lewering van kritieke dienste ontbreek steeds.
  5. Begraafplase: Dié fasiliteite is in ’n haglike toestand en getuig van ’n gebrek aan respek vir die gemeenskap.
  6. Straatligte: AfriForum stel voor dat sonkragbeligting op ’n volhoubare wyse geïmplementeer word.
  7. Vullisterreine: Die dorpe se vullishantering moet ooreenkomstig die voorgeskrewe minimum omgewingstandaarde gedoen word.
  8. Parke: Hierdie openbare ruimtes moet skoongemaak en beveilig word, en duidelike riglyne vir gebruik daarvan moet ingestel word.
  9. Padnetwerk: Slaggate, onduidelike padtekens en ongemerkte spoedhobbels bring motoriste en voetgangers se veiligheid in gevaar.
  10. Netheid en openbare geriewe: Die dorpe in die Emthanjeni-munisipaliteit het ’n ernstige tekort aan gereelde skoonmaakprogramme en voldoende openbare toilette.

“Ons vertrou dat die munisipaliteit hierdie voorlegging ernstig sal opneem en dat die kwessies wat ons uitgelig het, prioriteit sal geniet in die finale GOP,” meen Smit.

Benewens die voorstelle wat AfriForum in terme van die GOP-plan ingedien het, het die organisasie ook ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om ’n platform op die been te bring waardeur plaaslike inwoners en organisasies se deelname aan beplanning en monitering sowel as die hersiening van munisipale prestasie aangemoedig en gefasiliteer word.

Soortgelyke plasings