Swak dienslewering maar munisipaliteit betaal R210 miljoen oortyd – AfriForum soek antwoorde
AfriForum se Nelspruit-tak eis antwoorde van Wiseman Khumalo, die munisipale bestuurder van die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit, ná dit aan die lig gekom het dat dié munisipaliteit tydens sy 2023/2024 boekjaar ’n ysingwekkende R210 miljoen aan oortyd spandeer het – ’n toename van meer as R76 miljoen vergeleke met die vorige boekjaar.
Die burgerregteorganisasie het in ’n skrywe aan Khumalo onder meer gevra:
- Watter departemente was verantwoordelik vir die oortydbesteding?
- Hoe word hierdie uitgawes geregverdig gegewe die gebrek aan dienslewering op voetsoolvlak?
- Watter regstellende stappe word geneem om verdere vermorsing te voorkom?
- Wat is die munisipaliteit se plan om die agterstand in die instandhouding van openbare groensones en sypaadjies op te klaar?
AfriForum het ook in sy skrywe verskeie openbare ruimtes in Mbombela uitgewys wat in ’n haglike toestand is, waaronder parke en sypaadjies in Steiltes, West Acres, Stonehenge, Sonheuwel en by toegangspaaie wat in die stad in loop. Hierdie ruimtes word selde, indien ooit, deur munisipale spanne in stand gehou of skoongemaak.
Volgens Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, behoort daar elke uur van die dag iemand sigbaar te wees wat in elke woonbuurt en park werk om dit netjies te maak om dié R210 miljoen te regverdig. “In plaas daarvan is hierdie areas verwaarloos, vuil en gevaarlik met byna geen teken van munisipale bedrywighede nie. Dit is onaanvaarbaar en ’n blatante verontregting van elke belastingbetaler.”
“Die munisipaliteit vra voortdurend vir inwoners se geduld met agterstallige instandhouding, maar dit is gemeenskapsorganisasies soos AfriForum wat uiteindelik dié werk op hul eie onkoste verrig. Intussen spandeer die munisipaliteit honderde miljoene aan oortyd, sonder enige sigbare verbetering aan dienslewering,” voeg Van Heerden by.
AfriForum sal voortgaan om die munisipaliteit se finansiële state noukeurig te monitor, en veral die 2024/2025-oortydbesteding fyn dophou.
“Die munisipaliteit het intussen ’n sogenaamde ‘service delivery drive’ van stapel gestuur, waarin hulle beplan om verskeie gebiede skoon te maak en op te knap. AfriForum is egter van mening dat dit niks anders as ’n rookskerm is nie. Dit is skandelik dat daar ’n spesiale veldtog geloods moet word om basiese instandhouding en skoonmaakwerk te verrig – take wat onder normale omstandighede deel behoort te wees van die munisipaliteit se daaglikse verantwoordelikhede. Wanneer meer as R210 miljoen aan oortyd bestee is, is daar eenvoudig geen verskoning vir die verval van openbare ruimtes nie. Dienslewering moet in die strate sigbaar wees, nie net op papier nie,” sê Hugo de Beer, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak.
AfriForum het Khumalo sewe werksdae gegee om op die skrywe te reageer. Die organisasie is ook bereid om met die munisipaliteit in gesprek te tree om praktiese, gemeenskapsgebaseerde oplossings vir verskeie probleme te vind.