|

Straatname in Kimberley nou duidelik sigbaar, danksy AfriForum

Die AfriForum-tak in Kimberley het die afgelope paar weke al die straatname in die Hadisonpark-woonbuurt geverf en vullis opgetel. Die tak beplan om hierdie projek in die Kestellhof-woonbuurt voort te sit.

Daar is ook by die Konsentrasiekamp-monument skoongemaak en van die heinings is herstel om mense saans uit die perseel te hou. Vandale het van die monument se marmerblaaie en staalkonstruksie beskadig en gebreek. Die vullis is opgetel en die monument is met seep en water afgewas.

“Die munisipaliteit het geen begeerte om die verlede en die geskiedenis van ons nasie en Afrikaner te onderhou nie,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Die tak het in Mei ook weer ’n watermonster van die Kamferdam ná ’n groot reënbui geneem. Luidens die resultate was die E. coli- en Koliforme-tellings in die water baie hoog, wat ’n bewys is dat rou riool in die dam gestort word, terwyl die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit niks daaromtrent doen nie. Al die flaminke wat eens daar floreer het, is of dood of het na ’n nuwe bestemming getrek.

Die AfriForum-tak in Kimberley beplan nog groot aksies en projekte om teen die verval en agteruitgaan van dié eens mooie stad te baklei.

Soortgelyke plasings