Straatnaamverandering in Upington finansiële vermorsing, sê AfriForum
Die voorgenome verandering van Schroderstraat na Alfred Q. Gubulastraat in Upington is nie in die beste belang van die inwoners nie en hou verreikende finansiële en sosiale gevolge in. Só meen AfriForum in ’n formele beswaar wat die organisasie op 2 September aan die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit gerig het.
Volgens AfriForum sal so ’n straatnaamverandering aansienlike koste meebring vir die vervanging van padtekens en straatnaamborde; administratiewe uitgawes veroorsaak weens die bywerking van amptelike dokumente, registers en databanke; indirekte koste plaas op inwoners en ondernemings wat hul adresse en dokumentasie moet aanpas; en openbare fondse wegneem van noodsaaklike dienste soos riool- en infrastruktuurprojekte.
“Upington het steeds duisende huishoudings wat van die emmerstelsel (balistelsel) gebruik maak vir riool. Om in hierdie konteks miljoene te bestee aan simboliese projekte, is onverantwoordelik. Hierdie besluit benadeel belastingbetalers direk,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder in die Kalahari.
AfriForum waarsku verder dat die eensydige verandering van ’n gevestigde straatnaam sonder behoorlike konsultasie kan lei tot verdeeldheid in plaas van samehorigheid. Die organisasie doen ’n beroep op die munisipaliteit om die besluit te heroorweeg en eerder in praktiese dienslewering te belê.