Stilfontein-tak se diensbaarheid ken geen perke
Die AfriForum-tak in Stilfontein het ’n besige drie maande agter die blad, maar dié tak het in hierdie tyd ’n baie groot verskil in die gemeenskap gemaak. Buurtwaglede verbonde aan die tak het nie net honderde liter water by inwoners afgelewer ná wateronderbrekings nie, maar selfs ’n gesteeld voertuig help terugvind, verkeer gereguleer nadat ’n elektriese kabel aan die brand geraak het en hand bygesit ná ’n ernstige motorongeluk.
Die buurtwaglede was onlangs van groot hulp om sigbaarheid op die N12/Kowiestraat te verbeter deur verkeer te help reguleer tydens erge reënbuie. Die lede het boonop groot sukses behaal toe hulle die polisie gehelp het met die soektog na ’n gesteelde voertuig. Die buurtwaglede het veral daarop gefokus om die toneel te beveilig waar die voertuig gevind is.
Buurtwaglede het ook in hierdie tyd die pad tussen Libuvo- en Mooistraat afgesper en die gebied beveilig nadat ’n elektriese kabel aan die brand geraak het. Dié pogings het die spanne, wat daarvoor verantwoordelik was om die brand te blus en herstelwerk te doen, gehelp om hul werk doeltreffend te verrig.
Vroeër vanjaar was daar ’n ernstige motorongeluk op die N12 en buurtwaglede het hand bygesit met die regulering van verkeer. Daar was ook ’n beduidende toename in patrollies met ’n gemiddeld van 42 patrollies wat gery is en ongeveer 20 km wat per skof afgelê is.
Toe daar geen water by die watertoring naby Jan van Riebeecklaan beskikbaar was nie, het lede van die Stilfontein-tak se buurtwag boonop 500 liter water by inwoners se huise afgelewer wat deur die tekorte geraak was.
Die tak het altesaam 43 klagtes rakende riool-, water- en kragprobleme hanteer en aangemeld, asook klagtes wat verband hou met die toestand van parke en infrastruktuur hanteer.
“In die stilligheid doen die AfriForum-tak in Stilfontein ontsettend baie vir die gemeenskap. Die gereelde patrollies en rapportering van munisipale probleme op ’n daaglikse basis, is van onskatbare waarde vir die algehele welstand van hierdie gemeenskap,” se Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Benewens al die werk wat die Stilfontein-tak se buurtwag vir die gemeenskap doen, beywer dié AfriForum-tak ook om die gemeenskap op grondvlak by te staan. Die tak se bestuur het daarom die area by die pannetjie op Stilfonteinweg aansienlik beter laat lyk deur die gebied se gras te sny. Op 24 Maart het die burgerregteorganisasie ook 20 liter rooi verf oorhandig vir die opknapping van die brandweerstasie op Stilfontein.
Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak. Kontak Marcia Engelbrecht by 084 516 5483 om vandag nog ’n bydrae te lewer.