Starlink: AfriForum gee boere en landelike gemeenskappe ’n stem by ICASA openbare verhore

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag deelgeneem aan openbare verhore wat deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (ICASA) gehou is oor voorgestelde nuwe lisensieraamwerk vir satellietdienste. Ernst van Zyl het in sy mondelinge aanbieding gefokus op die voordele wat boere en landelike gemeenskappe kan geniet deur toegang tot Starlink te verkry, asook om te verduidelik waarom die blokkering van hierdie potensiële voordele op grond van ras onregverdigbaar is.

AfriForum het in September 2024 skriftelike kommentaar by ICASA ingedien waarin die organisasie ’n beroep op ICASA doen om sy streng raskriteria, wat tans die toekenning van ’n Suid-Afrikaanse lisensie aan die satelliet-internetdiens Starlink blokkeer, te laat vaar.

Van die feite wat AfriForum vandag ingedien het, sluit in:

  1. Net meer as 10% van Suid-Afrikaanse huishoudings het toegang tot die internet by die huis. Terwyl sowat 17% van metropolitaanse huishoudings tuis toegang tot die internet het, het slegs 1,7% van landelike huishoudings dieselfde luuksheid. Plattelandse huishoudings in Limpopo het die laagste persentasie toegang gehad met slegs 0.6%, gevolg deur die Noordwes-provinsie met 0.8%.
  1. Die verbeterde kommunikasievermoëns wat deur Starlink moontlik gemaak word, sal ook bydra tot misdaadvoorkoming en verbeterde misdaadreaksietye. ’n Bykomende komplikasie is die feit dat selfoonopvangs tydens beurtkrag verswak of verdwyn as gevolg van die diefstal van selfoontoringbatterye. Starlink-beskikbaarheid sal beter reaksietye vir nooddienste moontlik maak, asook die kommunikasievermoëns van gemeenskapsveiligheidstrukture verbeter.
  1. Suid-Afrika se landelike gebiede het ’n ernstige gebrek aan gesondheidsorginfrastruktuur, en toegang tot kwaliteit mediese dienste is belaai met uitdagings. Om toegang tot Starlink te hê, sal dit vir pasiënte in afgeleë gebiede moontlik maak om gesondheidsorgpersoneel wat ver is te kontak. Die telemedisyne-konsultasies en -diagnoses wat Starlink sal moontlik maak, kan baie lewens red, aangesien dit die lang reistye wat tans hiermee geassosieer word vir baie uitskakel.
  1. Die primêre begunstigdes van Starlink se dienste in landelike gebiede sal skole en plase wees. Die aanlyn- of tuisonderrig wat Starlink moontlik sal maak, sal ’n welkome alternatief wees vir plekgebaseerde onderwys of om skool honderde kilometers verder by te woon. Bestaande skole in landelike gemeenskappe sal baie baat by betroubare internettoegang. Aanlyn opvoedkundige- en navorsingsbronne sal ook aan studente en onderwysers in hierdie afgeleë skole beskikbaar gestel word.
  1. Aan die sakekant van landbou kan toegang tot Starlink ’n wesenlike impak hê op hoe dit die nuutste outomatisering van landboutegnologieë sal fasiliteer deur die uitgebreide verbindingsdekking wat dit vir plase moontlik sal maak. Deur hierdie tegnologie kry selfs die mees geïsoleerde boere en landelike besighede die geleentheid om met ander in hul bedryf te kommunikeer, deur aanlyn platforms te koop en te verkoop, en hul markbereik uit te brei.

“Terwyl sommige wat in stedelike gebiede woon vinnig is om – meestal op sosiale media, ironies genoeg – die potensiële voordele van Starlink af te maak, skets die data ’n duideliker prentjie,” sê Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge.

“Satelliet-gebaseerde tegnologie soos Starlink sal die wesenlike internettoegang-gaping tussen landelike en stedelike Suid-Afrika oorbrug. In 2025 is Suid-Afrika die enigste land in suidelike Afrika wat nog nie Starlink of minstens ’n bekendstellingsdatum vir Starlink het nie,” sluit Van Zyl af.

AfriForum het ’n webwerf bekendgestel waar mense hul steun agter die organisasie kan plaas in hierdie veldtog: www.unblockstarlink.co.za.

Soortgelyke plasings