Stadsreinigingsheffing: Tshwane-metro begin met kreditering van rekeninge ná AfriForum-hofoorwinning, maar nog tjoepstil oor moontlike appèl
AfriForum verwelkom die kreditering wat tot dusver reeds aangemeld is op die munisipale rekeninge van inwoners wat verlede maand vir die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se stadsreinigingsheffing moes opdok. Die kreditering van die heffing, ten bedrae van R194,37 (BTW uitgesluit), volg ná die Hooggeregshof in Pretoria op 31 Julie in AfriForum se guns beslis het en dié nuwe heffing as onwettig en ongeldig verklaar het.
Kragtens die hofbeslissing moet die metro toesien dat alle munisipale rekeninge waarop die stadsreinigingsheffing reeds gehef is, in die volgende rekeningsiklus gekrediteer word met die bedrag gelykstaande aan die bedrag wat daarop gehef is. Verskeie inwoners in die metro het AfriForum sedertdien gekontak om te bevestig dat die kreditering inderdaad gedoen word en op die rekening as krediet vir “miscellaneous charges” aangedui word.
Intussen heers daar nog onsekerheid oor of die metro – soos wat hulle in die openbaar aangevoer het – wel aansoek om verlof tot appèl teen die hooggeregshofuitspraak gaan indien.
“Die metro was vinnig uit die blokke om aan te kondig dat hulle die beslissing sal appelleer, maar geen formele aansoek om verlof tot appèl is al gedoen nie,” sê Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.
“Die uurglas vir die metro om aansoek om verlof tot appèl in te dien, loop nou vinnig leeg. ’n Totaal van 15 hofdae word ná uitsprake vir die indiening van dié aansoek toegelaat, wat beteken dat die metro op die laatste teen 21 Augustus – dit wil sê oor net ’n week – hul aansoek moet doen. Indien hulle hierdie sperdatum misloop, is dit finaal neusie verby vir enige verdere hofgevegte oor dié heffing,” verduidelik Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.
Roodt hou egter vol dat ’n appèl in dié geval ’n verdere onnodige vermorsing van belastingbetalers se geld sal inhou. AfriForum het die metro juis verlede week in ’n skrywe ook daarop gewys dat die metro nie kan voortgaan om belastingbetalers se geld te vermors op hofsake waarvoor daar geen meriete is nie. Die burgerregteorganisasie het voorgestel dat die metro eerder ander planne sal moet maak om aanstaande jaar se begroting op ’n regmatige wyse te laat klop.
“Die hof het die metro se argumente in die hof as ‘verwarrend, misleidend en onsamehangend’ beskryf. Die saak het geen meriete vir appèl nie. Indien politici en amptenare dit nie besef nie en aanhou om belastingbetalers se geld op ’n verloorsaak te mors, sal AfriForum te werk gaan om hulle in hul persoonlike hoedanigheid vir die koste aanspreeklik te hou,” benadruk Roodt.
Die metro het sy plan vir die instelling van ’n stadsreinigingsheffing vroeër vanjaar aangekondig, en hoewel AfriForum sowel as verskeie politieke partye en privaat entiteite die implementering daarvan uit die staanspoor teengestaan het, het die metro hul besluit deurgevoer. AfriForum het die metro verskeie kere genader om die aangeleentheid te bespreek, maar die versoeke is telkens van die hand gewys of geïgnoreer. Dit het die burgerregteorganisasie genoop om die onregmatige implementering van die heffing in die hof te beveg.
Roodt benadruk dat die kreditering van bykans R224 op die munisipale rekeninge van nagenoeg 260 000 huishoudings en ondernemings ’n reuse- totale besparing vir die stad se inwoners inhou. “Die oorwinning wat AfriForum vir die 260 000 huishoudings en ondernemings beklink het, bring in slegs een maand ’n totale besparing van meer as R58 miljoen in die sakke van die stad se inwoners mee. Die kreditering van dié onwettige en ongeldige heffing is verblydend. Sou die metro binne die volgende week hul plan om aansoek om verlof tot appèl te doen uitvoer, sal AfriForum enduit veg om toe te sien dat die belange van die metro se inwoners beskerm word teen dié onderduimse geldmaakfoefie,” sluit Roodt af.
Sluit aan by AfriForum
Jy kan ’n verskil maak en help toesien dat AfriForum sy taak as burgerregtewaghond uitvoer. Sluit vandag nog aan by AfriForum. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.