| |

Stadsreinigingsheffing: Hof wys Tshwane-metro se aansoek om verlof tot appèl van die hand

Klankgreep: Arno Roodt (Afrikaans)
Klankgreep: Arno Roodt (Engels)

Die Hooggeregshof in Pretoria het vandag die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl in die saak aangaande die stadsreinigingsheffing van die hand gewys. Hierdie uitspraak is die tweede terugslag vir die metro, nadat die hof op 31 Julie beslis het dat die implementering van dié heffing onwettig is en tersyde gestel moet word.

Die Tshwane-metro het hul aansoek om verlof tot appèl slegs drie dae voor die afsnydatum ingedien, maar was vinnig weer die deur gewys deur waarnemende regter George Avvakoumides, wat hul aansoek as “ondeund”, “sonder meriete” en “verlangend in die beginsel van geregtigheid” afgemaak het. ’n Tweede bestrawwende kostebevel is teen die metro opgelê, wat weereens AfriForum se regskostes moet dek.

Die metro se regspan het tydens die hofverrigtinge onder meer geargumenteer dat AfriForum as burgerregteorganisasie nie oor die nodige locus standi (reg om ’n saak aanhangig te maak) beskik om die aansoek namens Pretorianers te bring nie. Die hof het die argument afgemaak en in die guns van belastingbetalers beslis deur aan te voer dat die metro se aansoek nie aan artikel 17(1) van die Hooggeregshofwet voldoen nie. Hiervolgens moet ’n aansoek om verlof tot appèl bewys dat daar ’n redelike kans op sukses in ’n appèl sal wees. Die hof het verder gesê dat die metro nie genoegsame redes kon gee oor hoekom die appèl enigsins aangehoor moet word nie.

“AfriForum is natuurlik baie bly oor hierdie positiewe uitspraak wat die metro se geldmaakplanne verder in die wiele ry. Staatsorgane soos munisipaliteite kan nie net tariewe instel om hul beursies vol te maak ten koste van belastingbetalers nie,” sê Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Die hof het verder uitgevaar teen die metro en gesê dat dié aansoek die metro se ware bedoeling met die heffing (om sy inkomste met sowat R540 miljoen per jaar onregmatig te verhoog) ontbloot het.

Luidens Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, is hierdie uitspraak ’n deurslaggewende oorwinning vir die gemeenskap. “Ons inwoners is nie ’n geldkoei wat sonder reg en rede gemelk kan word nie. Die metro het nou een van twee keuses – óf hulle aanvaar die uitspraak en begin om hul begroting volgens wetgewing te beplan óf hulle kan verder die metro se finansies onder druk plaas deur by die Hoogste Hof van Appèl te gaan aanklop. In ieder geval sal AfriForum regstaan om hulle tot verantwoording te bring.”

AfriForum sal aanhou toesien dat inwoners se belange beskerm word en dat belastingbetalers nie verder benadeel word deur onregmatige heffings en regsaksies nie.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf