Stad Kaapstad se nuwe tariefstrukture vir water en elektrisiteit ongrondwetlik, maan AfriForum
Stad Kaapstad se planne vir die implementering van nuwe tariefstrukture vir water, sanitasie en elektrisiteit is strydig met munisipale wetgewing en die Grondwet, maan die burgerregteorganisasie AfriForum. Die organisasie het sy teenkanting teen die voorgestelde strukture laat hoor in sy amptelike kommentaar op die metro se 2025/2026-konsepbegroting. Hierin waarsku AfriForum dat die plan om eiendomswaardasies as die grondslag van water- en sanitasietariewe te gebruik, sowel as die herstrukturering van die metro se elektrisiteitstariewe sonder die nodige kostestudie ernstige nadeel vir die Moederstad se huiseienaars inhou.
Jurie Ferreira, AfriForum-distrikskoördineerder, meen die voorgestelde tariefstrukture kom neer op ’n arbitrêre kruissubsidiëring, sal ’n onbillike finansiële las op eienaars en verbruikers plaas en sal die metro moontlik skuldig maak aan regsvergrype.
AfriForum ondersteun die beginsel van die heffing van dienste gekoppel aan die gebruik daarvan soos voorgeskryf in artikel 74(2) van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels. Luidens dié artikel moet tariewe billik wees en gekoppel wees aan die koste vir die lewering van die diens sowel as die gebruik daarvan. Ferreira beklemtoon dat die koppeling van heffings aan eiendomswaardasie strydig is met die voorskrifte van die wet.
“Die koppeling van die tarief van water aan die munisipale eiendomswaardasies, eerder as aan meetbare verbruik of die koste van die lewering van die diens skend hierdie bepaling van die munisipale stelselswet en minag die beginsel van kosteweerspieëlende tariewe op dienste,” verduidelik Ferreira. “Stad Kaapstad het ook nie enige tegniese regverdiging of ekonometriese analise gebied as regverdiging van hul voorgestelde watertariefmodel nie. Dit laat ernstige vrae oor die wettigheid van die model.”
Benewens Stad Kaapstad se planne vir die implementering van waterheffings gekoppel aan eiendomswaardasies, beoog die metro om ook sy elektrisiteittariefmodel te hersien. Dié aanpassing sal egter, weens die afwesigheid van ’n goedgekeurde kostestudie, die elektrisiteitsprysbeleid van die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie oortree.
Voorts het die metro ook die instelling van ’n nuwe stadsreinigingsheffing, bekend as die sogenaamde city-wide cleaning tariff, in sy begroting voorgestel. Dié heffing sal volgens die metro ook op die waarde van eiendom gehef word en gebruik word vir die opruiming van parke, sypaadjies, taxistaanplekke en informele nedersettings oor die hele metro heen. Ferreira verduidelik dat die instelling van dié voorgestelde heffing onbillik sal wees aangesien die koste van dié munisipale dienste reeds as deel van eiendomsbelasting gehef word en derhalwe reeds tot voordeel van die breër gemeenskap aangewend moet word.
AfriForum het in sy kommentaar oor die konsepbegroting verskeie voorstelle gemaak. Ten eerste is versoek dat die metro die voorgestelde heffing op water en sanitasie gekoppel aan die waarde van die betrokke eiendom, moet hersien en in ooreenstemming met die vereistes van die Munisipale Stelselswet moet bring. Voorts eis die burgerregteorganisasie dat Stad Kaapstad die mees onlangse kostestudie, wat voldoen aan die voorskrifte van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) moet voorsien as regverdiging van die voorgestelde kragtariefmodel; en indien dit nie gedoen kan word nie, dat die voorgestelde model uit die begroting verwyder moet totdat daar aan die vereistes voldoen kan word. Die organisasie het ook ’n vergadering met die metro versoek om dié en ander knelpunte in die konsepbegroting te bespreek.
“Ons streef na ’n samewerkende benadering met Stad Kaapstad, maar die metro se optrede moet gegrond wees op wettigheid, deursigtigheid en gemeenskapsbelang. Wanneer tariewe die beginsels van reg en rede oorskry, het die publiek die reg én die plig om op te tree. Ons is bereid om met die metro in gesprek te tree, nie net as kritici nie, maar as vennote in ’n gedeelde visie vir ’n regverdige, volhoubare en diensgerigte Kaapstad,” sluit Ferreira af.