Staan saam teen boelies! Só bemoedig AfriForum leerders by Vaal Triangle Academy
Of dit nou op die skoolterrein, sosiale media of in die park tussen die buurt se kinders is, een ding is seker, ’n boelie kan enige tyd of plek sy nare kop uitsteek. Tog is daar raad én hoop – en dit is presies wat AfriForum se teenboeliespan verlede week (12 April) vir leerders van die Vaal Triangle Academy in Vanderbijlpark gebring het. Tonne raad, hope pret en die wete dat saamstaan téén boeliegedrag die wenantwoord is, het op dié dag leerders nie net vermaak nie, maar ook toegerus.
Leandie Bräsler, bestuurder van Jeugleierskap by AfriForum, reis jaarliks die land van hoek tot kant plat om jongmense in te lig oor die gevare van boeliegedrag en om handige raad vir die hantering van dié wêreldwye verskynsel te gee. Volgens haar is boeliegedrag ’n toenemende probleem wat nie net kinders se veiligheid bedreig nie, maar uiteindelik ook hul akademiese prestasie nadelig kan beïnvloed. Bewusmaking van afknouery in veral skole, waar kinders eintlik ’n veilige hawe moet vind, is daarom vir AfriForum ’n belangrike funksie, verduidelik Bräsler. “Boonop is veilige skole noodsaaklik vir veilige gemeenskappe,” voeg sy by.
Om boeliebestand te word, is geen kinderspeletjies nie, maar iets wat Bräsler reken aangeleer en ingeoefen kan word. Sy gee in die praatjies en demonstrasies wat by skole gedoen word – waar leerders ook die geleentheid kry om die teenboelieveldtog se gelukbringer, Matteus, met sy wapenrusting te ontmoet – handige raad oor hoe om waarlik boeliebestand te word.
“Die een groot les wat kinders in die stryd teen boeliegedrag moet leer, is om saam te staan,” verduidelik sy. “Boelies floreer op slagoffers wat alleen en magteloos voel. Kinders kan egter hulle mag herwin en opstaan teen boelies wanneer hulle maats en ondersteunende volwassenes het wat saam met hulle kan staan.”
Bräsler raai ook kinders aan om nie toe te laat dat boeliegedrag “broeiplek” kry nie. “Hoe langer ’n boelie aanhou afknou, hoe sterker sal sy houvas op ’n slagoffer word. Daarom moet kinders bewus wees van hoe boeliegedrag begin, hoe dit lyk, klink of voel. As hulle kan leer om dit raak te sien en met selfvertroue kan optree, sal hulle paraat kan wees en met die nodige tegnieke dié gedrag vroegtydig in die kiem smoor.”
Tydens die praatjie wat by Vaal Triangle Acadamy aangebied is, is leerders onder meer ook geleer oor die verskil tussen boeliegedrag en konflik en oor die verskillende vorme wat boeliegedrag kan aanneem.
Caren Oosthuizen, skoolhoof by Vaal Triangle Acadamy, meen AfriForum se teenboeliespan het belangrike waardes, soos dié wat in die Bybelse wapenrusting van God uiteengesit word en ook prakties vir die kinders uitgebeeld word deur die Matteus-gelukbringer, vir leerders van dié skool tuisgebring. “Deur waardes soos innerlike krag, veerkragtigheid en integriteit by die leerders in te prent, streef AfriForum daarna om die kinders te bemagtig om met selfvertroue en deernis teen boeliegedrag op te staan. Dit skep uiteindelik ’n skoolkultuur wat geanker is in respek, empatie en eensgesindheid,” verduidelik Oosthuizen.
“Die teenboelieveldtog se aanbieding is gebaseer op die volle wapenrusting van God en leer kinders oor dinge soos vrede, waarheid en geloof en hoe hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan,” verduidelik Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir Onderwys. Volgens haar is dit van kardinale belang om leerders reeds op ’n jong ouderdom met dié vaardighede toe te rus om dus gevare in die toekoms te voorkom.
AfriForum doen ’n beroep op ouers en onderwysers om proaktief op te tree. Wees bewus! Dit is belangrik om na ons kinders se geestelike welstand om te sien en na hulle te luister. Hulle is immers die leiers van die toekoms. Vir meer inligting rakende AfriForum se teenboelieprojek besoek www.teenboelie.co.za en laai die teenboeliegids gratis af. Stuur ’n e-pos na boelie@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.