Só hou AfriForum-buurtwag Struisbaai veilig
Die AfriForum-buurtwag in Struisbaai het die afgelope week bewys waarom buurtwagte kardinaal belangrik is vir gemeenskapsveiligheid. Die buurtwag het verskeie groot suksesse behaal, wat die belang van parate gemeenskappe beklemtoon.
Op 8 Junie het die AfriForum-buurtwag ’n beduidende rol gespeel om voertuig wat buite Struisbaai gesteel is, terug te vind. Die buurtwag is via ’n nommerplaatuitkenningskamera (LPR-kamera) in kennis gestel dat die voertuig die dorp binnegekom het en het onmiddellik gereageer deur observasiepunte in te neem om die voertuig dop te hou. Die buurtwag het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ontbied en voortgegaan om die voertuig dop te hou totdat die SAPD opgedaag en die voertuig voorgekeer en uiteindelik gekonfiskeer is. Die SAPD ondersoek die saak verder.
Die buurtwag het op 3 Junie ’n veiligheidsoudit by die Zoetendal Akademie gedoen om die skool se veiligheid op te skerp.
Verder het die AfriForum-buurtwag op 5 Junie tweerigtingradio’s en flitse aan die Struisbaai Noord-buurtwag, wat nie ’n AfriForum-struktuur is nie, geskenk. AfriForum en die Struisbaai Noord-buurtwag het al vir ’n geruime tyd gesamentlike optredes beplan en uitgevoer. Die gees van goeie samewerking het stelselmatig uitgebrei met toenemende skakeling en suksesvolle operasies – tot so ’n mate waar die twee buurtwagte op mekaar staatmaak.
AfriForum se Struisbaai-buurtwag bedank die plaaslike SAPD en gemeenskapspolisiëringsforum, en die Struisbaai Security Partnership groep vir hul samewerking en toewyding om Struisbaai veiliger te maak.
Sluit vandag nog by jou naaste AfriForum-buurtwag aan en help om jou kinders se toekoms te verseker. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of bel Erasmus by 081 216 9602.
